Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 30:13-33 Die Boodskap (DB)

13. Lea het gesê: “Mooi so, die geluk is aan my kant. Al die ander vroue sal my sukses raaksien en my gelukkig ag.” Daarom het sy die kind Aser genoem.

14. Op ’n dag, tydens die oestyd, het Ruben in die veld gaan stap. Hy het liefdesappels gesien en dit opgetel. Liefdesappels was ’n vrug wat mense lief gemaak het vir mekaar. Ruben het die liefdesappels vir sy ma gebring. Toe Ragel dit sien, het sy dadelik gesê: “Lea, gee my asseblief van Ruben se liefdesappels.”

15. Lea het geïrriteerd gevra: “Wat? Is dit nie genoeg dat jy my man gevat het nie? Nou wil jy nog my kind se liefdesappels ook hê.”“Asseblief, Lea,” het Ragel gepleit, “jy kan vannag my beurt kry. Jakob kan by jou gaan slaap, maar dan moet jy my van jou kind se liefdesappels gee.” Lea het die liefdesappels toe vir haar gegee.

16. Toe Jakob die aand van die veld af kom, het Lea hom tegemoetgestap. “Jakob,” het sy geroep, “jy slaap vanaand by my. Ek het klaar daarvoor betaal met Ruben se liefdesappels wat hy opgetel het.” Jakob het toe by Lea geslaap.

17. God het Lea se gebede verhoor en sy het verwag en vir Jakob ’n seun gegee. Dit was die vyfde een.

18. Lea het gesê: “God beloon my omdat ek my slavin vir Jakob gegee het.” Sy het die kind Issaskar genoem.

19. Lea het sowaar weer verwag en nog ’n seun vir Jakob gegee. Dit was die sesde.

20. Lea het gesê: “God het my werklik ’n kosbare geskenk gegee. Hierdie keer sal Jakob presente vir my moet bring, want ek het hom ses seuns gegee.” Sy het die kind Sebulon genoem.

21. Die laaste kind was ’n dogtertjie en Lea het haar Dina genoem.

22. God het egter ook aan Ragel gedink en haar gebede verhoor. En Ragel het verwag.

23. Sy het ’n seun gehad en gesê: “God het my skande en vernedering weggevat.”

24. Sy het hom Josef genoem. Dit beteken: “Mag die Here my nog ’n ander seun ook gee!”

25. Na die geboorte van Josef het Jakob vir Laban gesê: “Laat my asseblief toe om na my ouerhuis en my land toe terug te gaan.”

26. Omdat ’n slaaf se familie die baas se eiendom was, het Jakob ook nog gesê: “Laat my ook toe om my familie saam te vat. Ek het hard gewerk vir hierdie vroue. En my harde werk het jou ryk gemaak.”

27. “Ja, dis waar,” het Laban gesê, “ek moet dit teenoor jou erken. Die Here het my as gevolg van jou ryk gemaak.

28. Daarom, Jakob,” so het Laban voortgegaan, “sal ek jou enigiets betaal as jy sal bly. Jy noem dit en ek betaal.”

29. Jakob het geantwoord: “Jy is reg. Ek was ’n getroue werker en ek het jou kuddes goed opgepas.

30. Voordat ek hier gekom het, het jy nie veel gehad nie, maar toe het die Here jou ryk gemaak en baie besittings gegee. Wat ek ook al gedoen het, het jou net ryker gemaak. Nou het dit tyd geword dat ek vir my vroue en kinders moet sorg.”

31. “Hoeveel moet ek jou betaal?” het Laban gevra.“Niks nie,” sê Jakob. “Jy hoef my nie geld te gee nie. Daar is eintlik net een ding wat ek graag wil hê. En as jy dit gee, sal ek weer jou kuddes versorg.”

32. “Wat is dit?” het Laban gevra.Jakob het geantwoord: “Laat my vandag nog deur die kuddes loop en laat ek elke gespikkelde en gestreepte skaap, al die swart lammetjies en al die bokke met spikkels en strepe vir my vat. Dit sal dan my loon wees, niks meer nie.”

33. Jakob het voortgegaan: “Jy kan kom kyk of ek eerlik was. As jy deur my kudde loop, sal elke skaap of bok wat nie spikkels of strepe het nie, gesteelde diere wees. Elke lammetjie wat nie swarterig is nie, sal ’n dier wees wat ek van jou gesteel het.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 30