Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 7:19-27 Die Boodskap (DB)

19. “Hulle sal hulle geld weggooi omdat dit niks meer werd sal wees nie. Geen geld sal ’n mens in elk geval kan red as die Here vir hom kwaad word nie. Hulle geld sal hulle nie kan help nie. Hulle sal nie daarmee kos kan koop nie, want daar sal geen kos wees nie. Dit is juis oor hulle geld dat hulle soveel slegte dinge aangevang het.

20. Hulle was so trots op al hulle goue juweliersware. Dis dieselfde juweliersware wat hulle gesmelt het om afgode te maak wat afskuwelik en walglik is. Dit is hoekom Ek nou sorg dat hulle geld en besittings waardeloos en walglik vir hulle sal word.

21. Ek sal hulle geld en hulle besittings vir die vyande gee wat Ek na hulle land toe gaan stuur. Diewe sal al hulle kosbare goed steel.

22. Ek sal niks doen as diewe selfs die tempel, my eie huis hier op aarde wat vir My baie kosbaar is, besteel en van ’n kant af bemors nie.

23. “Maak my volk reg om as gevangenes na ’n ver en vreemde land weggevoer te word, want die mense wat in die howe moes werk, het self ’n spul moordenaars geword. Jerusalem is van hoek tot kant vol geweld.

24. “Ek bring die slegste en die wreedste nasies hiernatoe. Hulle sal julle huise vir hulle vat. Ek breek die groot huise af van almal wat so trots was op wat hulle het, en Ek trek ook weg uit my eie huis, die tempel daar in Jerusalem.

25. “My volk sal vol vrees en benoudheid rondhardloop. Hulle sal wens dat daar weer vrede in hulle land moet kom, maar daar sal geen vrede wees nie.

26. Daar sal net nog meer rampe en moeilikhede wees; dit sal nooit ophou nie. Hulle sal die een gerug na die ander hoor van rampe wat oor die volk kom. Dan sal mense na die godsdienstige leiers toe hardloop en vra: ‘Wat sê die Here vir ons?’ Maar die leiers sal hulle ook nie kan help nie. Niemand sal vir hulle kan sê wat om te doen nie.

27. Die regeerders van die land sal hulle ook nie kan help nie. Die regeerders sal self staan en huil, so hartseer sal hulle wees. En die mense sal bewe, so bang sal hulle wees. Dan sal Ek al die slegte dade wat mense aan mekaar gedoen het, aan hulle terugdoen. Hulle sal gestraf word met die straf wat hulle verdien. Dan eers sal hulle besef en erken dat Ek die Here is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 7