Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 6:7-14 Die Boodskap (DB)

7. Daardie dag wanneer julle lyke so tussen die verwoeste stede en altare rondlê, sal julle moet erken dat Ek die Here is.

8. “’n Klompie van die mense sal die rampe oorleef wat Ek oor hierdie land bring. Hierdie groepie sal oor die hele wêreld tussen al die nasies moet gaan bly as gevangenes van hulle vyande.

9. En dan, wanneer hulle as gevangenes in ’n vreemde land sit, sal hulle My skielik weer onthou. Hulle sal raaksien hoe seer hulle My gemaak het toe hulle ongehoorsaam aan My was en voor vreemde afgode gaan buig het en offers aan hulle gebring het. Dan sal hulle hulleself haat oor al die verkeerde dinge wat hulle aangevang het.

10. Daardie dag sal hulle erken dat Ek alleen die Here is. En dan sal hulle weet dat Ek doodernstig was toe Ek voorspel het dat al hierdie verskriklike rampe oor hulle gaan kom.”

11. So sê die Here, die God van Esegiël: “Slaan julle hande in skok saam. Snak na julle asem van skok. Roep uit; kerm en kla. Want die rampe wat vir Israel voorlê, is te verskriklik vir woorde. Mense gaan links en regs doodgemaak word in oorloë, deur hongersnood en deur dodelike siektes.

12. Wie ver is, sal ’n dodelike siekte kry en doodgaan. Wie naby is, sal deur die vyand doodgemaak word. Wie oorbly en die siektes en oorloë oorleef, sal van die honger doodgaan. Dan eers sal my woede oor julle sonde bedaar.

13. Dan, wanneer julle lyke tussen julle afgode en die altare vir julle afgode lê op al die plekke waar julle die afgode aanbid het, sal julle besef dat Ek alleen die Here is. Net Ek!

14. Ek sal julle verpletter en vermorsel. Ek sal julle stede verlate plekke maak, plekke waar g’n lewende mens woon nie. Julle hele land sal verwoes en verlate bly lê. En dan sal Israel besef dat Ek regtig die Here is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 6