Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 5:1-12 Die Boodskap (DB)

1. “Mens, vat ’n skerp swaard en gebruik dit as ’n skeermes. Skeer jou hare en jou baard daarmee af. Gebruik dan ’n skaal om jou hare te weeg, en deel jou hare in drie hopies wat ewe veel weeg.

2. Vat dan een derde van die hare en plaas dit in die middel van jou kaart van Jerusalem wat op die baksteen geteken is. As die stad oorwin is, verbrand dan dié hare. Vat die tweede hopie hare en strooi dit oor die kaart uit. Terwyl jy dit uitstrooi, moet jy dit met jou swaard kap. En strooi die laaste hopie hare die wêreld vol. Net so gaan Ek my volk deur oorlog verstrooi.

3. Hou net ’n klein bietjie van die hare uit en bêre dit iewers in jou klere sodat dit nie kan wegraak nie.

4. Vat dan ’n paar van dié hare en gooi hulle in die vuur. Hulle moet verbrand word. Van daar af sal ’n vuur uitgaan en die mense wat van Israel oorgebly het, verteer en vernietig.”

5. So sê die Here, Esegiël se God: “Wat jy nou doen, wys wat met Jerusalem gaan gebeur. Ek het Jerusalem in die middel van die nasies geplaas. Ek het haar gekies as my liefling.

6. Maar Jerusalem het teen My in opstand gekom en nie gedoen wat Ek vir haar gesê het om te doen nie.

7. Sy was selfs nog slegter as die nasies wat rondom haar was. Sy het geweier om die wette na te kom wat Ek vir haar gegee het om te gehoorsaam.

8. Daarom,” sê die Here, Esegiël se God, “word Ek die Een wat teen jou gaan veg, Jerusalem. Ek self gaan jou straf, terwyl al die ander volke toekyk.

9. Ek gaan jou swaarder straf oor jou afskuwelike optrede as wat Ek enigeen nog ooit gestraf het of ooit weer sal straf.

10. Wanneer dit gebeur, sal ouers hulle eie kinders eet, en kinders sal hulle ouers eet. So erg sal die hongersnood wees. Selfs die paar mense wat die ramp oorleef, sal Ek straf deur hulle tot aan die uithoeke van die aarde te verstrooi, ver van hulle eie land af.

11. “Ek sweer by Myself,” sê die Here, Esegiël se God, “dat Ek julle heeltemal van My af sal losmaak. Ek sal geen genade aan julle bewys nie omdat julle die plek waar Ek woon, vuil gemaak het met julle afskuwelike afgode en slegte dade.

12. ’n Derde van jou mense sal in die stad doodgaan deur die groot hongersnood en deur pessiektes. ’n Derde van die mense in die stad sal deur die vyand doodgemaak word wat rondom die stad gaan wees. En ’n derde sal vlug en oor die hele aarde verstrooi word, en Ek sal hulle met oorloë en moeilikhede agtervolg.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 5