Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 45:9-22 Die Boodskap (DB)

9. So sê die Here, Esegiël se God: “Ek het nou genoeg gehad van julle. Julle het nou te ver gegaan, regeerders van Israel. Hoor wat Ek sê. Hou op om mense gewelddadig te behandel. Hou op om mense te verdruk en uit te buit. Begin doen wat reg is. As julle moet besluit tussen twee mense wat stry, doen dan wat reg is. Hou op om my volk se grond en besittings te steel en vir julleself te vat,” sê die Here, die God van Esegiël.

10. “Wanneer julle mense se kruideniersware afmeet, moet julle hulle nie bedrieg nie. Wanneer julle besigheid doen, lieg en bedrieg julle net om meer geld te maak. Hou op daarmee.

11. Gebruik altyd dieselfde skaal wanneer julle weeg en die regte liniaal wanneer julle iets afmeet.

12. Hou op om mense in te loop.”

13. “As julle belasting aan die staat betaal, moet julle eerlik wees. Gee die regte bedrag.

14. Moenie ’n kans vat en lieg nie.

15. Betaal julle belasting deur een uit elke 200 van julle skape en bokke na my huis te bring. Bring ook die ander offers wat Ek van julle vra vir julle sondes,” sê die Here, die God van Esegiël.

16. “Niemand word verskoon nie. Almal moet die regte belasting aan die regeerder van Israel oorbetaal.

17. Van die regeerder vra Ek dat hy ook sekere offers vir my huis sal bring op die dae wanneer die volk feesvier. Dis sy verantwoordelikheid om die offers te bring as versoening vir Israel se slegte dade.”

18. Die Here, Esegiël se God, sê verder: “Op Nuwejaarsdag moet die mense wat in die huis van die Here werk, ’n bul vat. Hy mag nie gebreklik wees nie. Met die bul se bloed moet hulle my huis rein maak.

19. Hulle moet dit só doen. Die een wat in my huis werk, moet van die bul se bloed vat en dit aan die deurkosyne smeer. Hy moet dit ook smeer aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar en aan die kosyne van die ingang na die binneste deel van my huis.

20. Hy moet dieselfde doen op die sewende van daardie maand. Dalk was daar mense wat slegte dinge gedoen het en dit nie eens besef het nie. Of dalk het hulle nie eens geweet dat dit wat hulle doen, sleg is nie. Só moet jy my huis weer rein maak.

21. “Op die veertiende van daardie maand moet julle dan die paasfees vier om terug te dink aan hoe Israel uit Egipte verlos is. Vir hierdie fees moet julle sewe dae lank brood eet wat geen suurdeeg in het nie.

22. By hierdie fees moet die een wat oor julle regeer, ’n bul as offer bring vir homself en vir die hele volk.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 45