Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 45:3-16 Die Boodskap (DB)

3. Van hierdie stuk grond wat julle afgemeet het, moet die huis van die Here gebou word op ’n stuk wat twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed is. Hierdie is die woning van die God wat heeltemal anders as mense is.

4. Hierdie stuk grond behoort aan die Here. Dit is eenkant gesit vir diens aan Hom. Die mense wat in my huis werk en wat by die altaar mag kom om die diens aan die Here te verrig - dis hulle grond. Op hierdie grond kan hulle vir hulle huise bou. Dis deel van die grond wat aan die huis van die Here behoort.

5. Daar bly nog ’n stuk van hierdie grond oor. Dit is ’n gedeelte wat twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed is. Hierdie grond gee Ek vir die ander mense wat in my huis diens doen. Hulle kom nie tot voor My nie, maar hulle werk in my huis. Hierdie grond behoort aan hulle. Hulle mag daar woon.

6. “Dan moet julle ook grond afmeet wat twee en ’n half kilometer breed en twaalf en ’n half kilometer lank is. Hierdie area is net so groot soos die area wat vir My eenkant gesit is. Hierop moet julle julle stad bou.

7. “Vir die een wat oor julle regeer, moet julle ook grond gee. Sy grond lê aan weerskante van die gebied wat aan My behoort en die grond wat vir die stad opsy gesit is. Die regeerder se grond lê wes en oos daarvan. Die regeerder se grond moet net so groot wees as die grond wat jy aan elke stam van Israel toeken. Die grond moet strek van die wesgrens van Israel af tot aan die oosgrens.

8. Hierdie grond is die regeerder se deel van die land. Ek sal vir julle ’n regeerder aanwys, en hy sal nie weer my volk sleg behandel nie. Hy sal nie weer hulle grond steel nie. Die Israeliete sal die land gelykop verdeel tussen die stamme van Israel.”

9. So sê die Here, Esegiël se God: “Ek het nou genoeg gehad van julle. Julle het nou te ver gegaan, regeerders van Israel. Hoor wat Ek sê. Hou op om mense gewelddadig te behandel. Hou op om mense te verdruk en uit te buit. Begin doen wat reg is. As julle moet besluit tussen twee mense wat stry, doen dan wat reg is. Hou op om my volk se grond en besittings te steel en vir julleself te vat,” sê die Here, die God van Esegiël.

10. “Wanneer julle mense se kruideniersware afmeet, moet julle hulle nie bedrieg nie. Wanneer julle besigheid doen, lieg en bedrieg julle net om meer geld te maak. Hou op daarmee.

11. Gebruik altyd dieselfde skaal wanneer julle weeg en die regte liniaal wanneer julle iets afmeet.

12. Hou op om mense in te loop.”

13. “As julle belasting aan die staat betaal, moet julle eerlik wees. Gee die regte bedrag.

14. Moenie ’n kans vat en lieg nie.

15. Betaal julle belasting deur een uit elke 200 van julle skape en bokke na my huis te bring. Bring ook die ander offers wat Ek van julle vra vir julle sondes,” sê die Here, die God van Esegiël.

16. “Niemand word verskoon nie. Almal moet die regte belasting aan die regeerder van Israel oorbetaal.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 45