Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 26:11-18 Die Boodskap (DB)

11. Die soldate en hulle perde sal jou strate vertrap. En hulle sal jou mense voor die voet doodmaak. Die sterkste pilare waarop jou huise en geboue rus, sal hulle alles omgooi.

12. “Hulle sal vat net wat hulle wil hê. Dan sal hulle al jou mure omgooi. Al die mooi huise sal hulle afbreek. Hulle sal die stene en die hout waarvan jou huise gebou is, in die see gooi.

13. Ek sal daardie dag die musiek stop in jou stede sodat niemand meer kan sing nie. Niemand sal meer bly wees nie. Niemand sal in jou stad op ’n musiekinstrument speel nie omdat niemand opgewek sal wees nie.

14. Ek maak jou eiland ’n kaal rotsplaat waarop niks kan groei nie. Die vissermanne sal hulle nette oor jou uitgooi om in die son droog te word. En jy sal nooit herbou word nie, want Ek, die Here, sê so.” Dit is die woord van die Here, Esegiël se God.

15. Dis wat die Here, die God van Esegiël, verder oor Tirus sê: “Al die mense wat op die eilande langs die kuslyn naby jou bly, sal bewe as hulle hoor hoe Ek jou vernietig het, Tirus. Hulle sal hoor hoe jy in jou nood roep om hulp. Hulle sal hoor hoe die mense wat gewond is, hardop huil.

16. Dan sal al die regeerders en konings van hierdie dorpe en stede opstaan. En hulle sal al die pragtige, duur klere wat hulle aanhet, uittrek. Vol vrees sal hulle op die grond neerval, so bang sal hulle wees oor wat gebeur het en wat hulle alles gesien het. Hulle sal bewe van vrees, bewe oor wat Ek aan jou gedoen het, Tirus.

17. “Daardie dag sal hierdie mense ’n begrafnislied sing. Hulle sal sê: ‘Jy was so ’n bekende stad op die mooi eiland van Tirus. Jy het oor die see regeer, so sterk was jy. En nou is jy verwoes! Daar het niks van jou oorgebly nie. Eens op ’n tyd het jou mense met hulle bote oor die hele wêreld gevaar. En hulle was so sterk en ryk dat almal vir hulle bang was.

18. Nou bewe al die mense wat langs die see bly omdat jy verwoes is. Die mense wat op die eilande bly, is wit van die skrik oor wat met jou gebeur het.’”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 26