Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 24:8-18 Die Boodskap (DB)

8. Daarom sal Ek haar bloed ook so laat spat dat enigeen dit sal kan sien. Ek gaan dit doen omdat Ek kwaad is oor wat julle gedoen het en wraak gaan neem daaroor.”

9. So sê die Here, die God van Esegiël: “Jerusalem gaan verwoes word, want dit is ’n stad vol mense wat ander doodmaak. Ek sal self die vuur pak wat onder die pot sal brand.

10. Ja, gee vir My hout aan! Laat die vuur brand sodat die pot kan kook. Kook die vleis saam met baie speserye. Maak dan die pot leeg en los die bene daarin sodat dit in die pot vasbrand.

11. Sit dan die leë pot op die vuur sodat dit kan skoon brand.

12. Wat gebeur? Die pot word nie skoon nie. Hy bly vuil. Dis hopeloos om te dink die vuur sal hom skoon brand.

13. Net so is dit met al julle slegte dade en julle aanbidding van die afgode. Ek het probeer om julle skoon te maak. Maar julle het hardkoppig geweier. Daarom sal julle vuil bly tot Ek my woede oor julle afgekoel en julle gestraf het.

14. Dit is Ek, die Here, wat gepraat het. Dis nou tyd dat julle gestraf word. En Ek sal julle nie jammer kry nie. Ek sal nie van gedagte verander nie. Julle moet maar julle volle straf dra. Julle sal gestraf word vir al die slegte dade wat julle gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël.

15. Toe sê die Here vir my:

16. “Mens, Ek gaan jou kosbaarste skat, jou vrou wat jou soveel vreugde gebring het, van jou af wegvat. Sy sal skielik doodgaan. Maar jy mag nie vir een oomblik wys dat jy hartseer is nie. Moenie huil nie. Jy mag geen traan stort nie.

17. Jy mag sug, maar net saggies. Ook as julle haar begrawe, mag jy nie hard huil nie. Jy mag op geen manier verraai dat jou hart stukkend gebreek is deur jou vrou se dood nie. En as vriende jou wil troos of vir jou kos wil bring omdat jou vrou nie meer daar is om vir jou te sorg nie, mag jy dit nie aanvaar nie.”

18. Ek het die volgende oggend vir my mense gesê wat die Here gesê het. En daardie aand is my vrou dood. Die volgende oggend het ek alles presies gedoen soos die Here vir my gesê het om te doen.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 24