Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:35-49 Die Boodskap (DB)

35. “Daarom, jou slegte vrou, hoor as die Here met jou praat.”

36. Dit is hoe die Here, die God van Esegiël, oor jou dink: “Jy het jouself uitgetrek vir al wat man is. Jy het voor afskuwelike beelde van afgode neergeval en hulle aanbid. Jy het my kinders aan jou afgode geoffer.

37. Daarom gaan Ek die volgende dinge doen: Ek maak al jou vriende bymekaar, al die mans vir wie jy so lief was. Ja, selfs die mans van wie jy nie gehou het nie en vir wie jy jou neus opgetrek het, maak Ek bymekaar. En dan sal Ek al jou klere voor hulle uittrek. Hulle sal jou sien, en jy sal van skaamte inmekaarkrimp.

38. En dan sal Ek jou straf omdat jy my kinders doodgemaak het, en omdat jy by ander mans geslaap het. Jy sal vol bloed wees soos Ek jou in my woede gaan slaan.

39. Daarna gaan Ek jou oorgee in die hande van die mans by wie jy so graag geslaap het. Hierdie mans is die nasies waar jy hulp gaan soek het. Hulle sal jou vernietig. Hulle sal al die plekke wat jy vir jou afgode gebou het, stukkend kap. En hulle sal die altare omgooi wat jy vir jou afgode gebou het. Hulle sal jou klere uittrek en jou pragtige juwele steel. Hulle sal jou kaal agterlaat, en jy sal skaam wees vir jouself.

40. Hulle sal saamstaan en jou met klippe doodgooi en jou met swaarde uitmekaarsny.

41. Hulle sal jou huise afbrand en jou voor baie ander vroue straf. So sal Ek sorg dat jy ophou om by ander mans te slaap. En jy sal ook nooit weer mans betaal om by jou te slaap nie.”

42. “Eers wanneer Ek jou hard gestraf het, sal my woede teen jou begin bedaar. Dan sal Ek ophou om jaloers op jou te wees. Ek sal rustig raak en nie meer woedend wees oor al jou slegte dade nie.

43. Maar voor dit gebeur, gaan Ek jou eers terugbetaal vir al jou slegte dade, want jy het vergeet wat Ek vir jou gedoen het toe jy nog jonk was. Jy het My woedend gemaak.” So sê die Here, Esegiël se God: “Asof jy nie genoeg slegte dade gepleeg het nie, het jy boonop by ander mans gaan slaap.

44. “Die mense wat spreekwoorde uitdink, sal van jou sê: ‘Aardjie na haar vaartjie!’

45. Jou eie ma het haar man en kinders verruil vir ander mans. En nou het jy dieselfde aangevang. Jy maak presies nes jou susters, want hulle verruil ook hulle mans en kinders vir ander mans. Ja, dis waar. Jou ma was ’n Hetiet en jou pa ’n Amoriet. Jy tree soos ’n heiden op!

46. “Jou ouer suster was Samaria wat met haar dogters daar in die noorde gebly het. En jou jonger suster was Sodom wat met haar kinders in die suide gebly het.

47. Maar dit was nie genoeg dat jy dieselfde slegte dade as hulle gedoen het nie. Nee, in ’n kort tydjie het jy hulle oortref met die slegte dinge wat jy gedoen het!

48. So seker as wat Ek leef, Sodom en haar dogters het nooit sulke slegte dinge gedoen soos jy en jou dogters nie,” so sê die Here, Esegiël se God.

49. “Sodom se slegte dade was dat sy lui en trots was. Sy het haar ooreet terwyl daar arm mense was wat voor haar huis gesit het en niks gehad het om te eet nie.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16