Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:15-20 Die Boodskap (DB)

15. “Maar toe het jy begin dink jy het My nie meer nodig nie. Jy het jou vertroue in jou eie skoonheid begin stel. En toe het jy jou liggaam vir elke man gegee wat verbygekom het. Jy het jou soos ’n slet vir elke man gegee wat daarvoor gevra het.

16. En jy het al die mooi en kosbare goed wat Ek vir jou gegee het, gebruik om die afgode te dien en voor hulle te buig. Ja, reg voor jou afgode het jy die getroude vrou geword wat by ander mans slaap. Kan ’n mens dit glo? Hoe kan so iets ooit gebeur?

17. Jy het die juwele en die goud en silwer wat Ek vir jou gekoop het, gebruik om vir jou beeldjies van afgode te maak. En dan het jy voor hierdie beeldjies neergebuig en dit aanbid asof dit jou god is. Dit was so goed jy het by ander mans geslaap toe jy voor daardie afgode neergebuig en hulle aanbid het.

18. En jy het die mooi klere wat Ek vir jou gekoop het, gebruik om oor jou afgodsbeelde te gooi. Jy het die olie wat Ek vir jou gekoop het, gebruik om vir die afgode offers te bring. En jy het wierook vir hulle gebrand om hulle te vereer, die einste wierook wat Ek vir jou gekoop het.

19. Verbeel jou! Ek is jou God, en Ek gee vir jou die beste om te eet. En wat Ek vir jou gee, gaan offer jy toe vir afgode, dooie beelde wat niks vir jou kan doen nie. Ja, dít is die slegte dinge wat jy aangevang het,” sê die Here, Esegiël se God.

20. “Ek was die pa van jou kinders. En dit is hierdie kinders, my seuns en my dogters, wat jy aan jou afgode geoffer het. Was dit nie erg genoeg dat jy by ander mans geslaap het nie?

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16