Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 14:1-10 Die Boodskap (DB)

1. ’n Klomp van die leiers van my volk het toe by my kom kuier. Terwyl hulle by my sit,

2. het die Here vir my gesê wat ek vir hulle moet sê:

3. “Mens, hierdie mans het afgode wat hulle in hulle harte dien. Hulle hou aan verkeerde dinge vas wat hulle mislei om slegte dade te doen. En nou het hulle gekom om te hoor wat Ek vir hulle wil sê. Dink jy Ek wil nog met hulle praat?

4. Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê soos volg oor hulle: Ek is die Here. Ek sal hierdie volk straf omdat hulle afgode in hulle harte aanbid en allerlei slegte dade doen, en dan nog ewe vroom kom vra wat die Here vir hulle te sê het.

5. Hierdie is ’n klomp mense wat afgode dien. Ek slaan hulle met al my mag.

6. “Daarom, gaan sê vir Israel die Here sê: Draai om! Draai weg van julle afgode af. Hou op om voor julle afgode te buig en hulle te aanbid, en aanbid My. En hou op met julle slegte dade.

7. Ek is die Here, en Ek sal almal straf wat voor afgode buig en slegte dade doen. Of dit ’n vreemdeling of ’n Israeliet is wat My verwerp en voor afgode gaan buig, Ek sal hulle straf as hulle dan die vermetelheid het om te kom vra wat Ek vir hulle te sê het.

8. Ek sal self teen sulke mense draai en ’n vreeslike voorbeeld van hulle maak. Ek sal hulle vernietig en hulle weggooi sodat hulle nie meer deel van my volk is nie. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.

9. En as iemand vir hierdie mense sê hy praat namens My, en hy lieg, sal dit wees omdat Ek hulle wil straf. Ek sal al sulke mense uitroei en vernietig, en hulle sal nie deel van my volk wees nie.

10. Die man wat sê hy praat namens My en die mense wat gaan vra het wat die Here oor hulle te sê het, sal almal saam gestraf word oor hulle slegte dade.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 14