Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 1:20-28 Die Boodskap (DB)

20. Die Gees van die vier lewende wesens was ook in die wiele. Waarheen die Gees ook al die wesens laat beweeg het, het die wiele saam beweeg. Die Gees was in beheer van dié vreemde ding waarna ek gekyk het.

21. Elke keer wanneer die wesens beweeg het, het die wiele ook beweeg. En elke keer wanneer die lewende wesens gestop het, het die wiele ook dadelik tot stilstand gekom. Wanneer die lewende wesens in die lug opgestyg en weggevlieg het, het die wiele saam opgestyg en gevlieg. Dit was omdat die Gees van die lewende wesens in die wiele was.

22. Bokant die koppe van die wesens was daar iets wat soos die horison gelyk het, en die lug van die horison het soos kristal geskitter. Dit het gelyk of daar ’n ysberg was, en die son het helder op die wit ys weerkaats. Hier onder het die vier wesens gestaan.

23. Die vier wesens se boonste vlerke het aan mekaar geraak, en hulle onderste vlerke was toegevou. Daarmee het hulle hulle lywe bedek.

24. Wanneer die wesens gevlieg het, het hul vlerke geklap soos die see se golwe wanneer dit teen die rotse breek. Die geraas van die vlerke het my laat dink aan ’n rivier wat in volle vloed afkom. Dit was die Here se stem wat ek gehoor het wanneer die vlerke geklap het. Dit het geklink soos ’n groot klomp mense, ’n hele skare wat gelyktydig praat. Of soos ’n groot groep soldate wat gelyktydig skree en roep. Die Here wat oor alles en almal mag het, het so gepraat. En elke keer wanneer die wesens stil gaan staan het, het hulle hulle vlerke laat sak.

25. Toe die wesens stil gaan staan, het ’n stem vanuit die skitterende ysberg bokant hulle koppe gekom.

26. Bokant die wesens se koppe was daar iets wat gelyk het soos ’n reusesitplek waarop ’n koning sit. Dit het gelyk of hierdie sitplek van hemelsblou edelstene gemaak is. En hoog bo-op die troon het Iemand gesit wat vir my na ’n Mens gelyk het. Hy het ver bokant die troon uitgestaan, so groot was Hy.

27. Die Man se bolyf het gegloei. Dit het gelyk of dit van lopende, witwarm metaal gemaak is, so helder het dit geblink. Dit het gelyk of daar vuur uit sy bolyf kon kom, so het dit geskitter. En sy onderlyf het net so geskitter, asof dit van ’n baie warm vuur gemaak is.

28. Rondom die Man was die lig so helder dat dit gelyk het of die mooiste veelkleurige reënboog om Hom gedraai was. Ek het toe besef dat dit die Here self was wat in al sy mag aan my verskyn het. En toe ek die Man sien, het ek met my gesig in die stof neergeval. Ek kon nie langer bly staan nie, so het dié gesig my oorweldig. Toe hoor ek iemand wat met ’n helder, duidelike stem met my praat.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 1