Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 9:4-19 Die Boodskap (DB)

4. Die Here sal ook anders maak met die vee van die Israeliete as met die vee van die Egiptenaars. Nie een van hulle diere sal vrek van die siekte nie.

5. Die Here het hierdie keer self oor die tyd besluit wanneer dit sal gebeur. Dit sal môre gebeur.’”

6. Die Here het dan ook die volgende dag laat gebeur wat Hy gesê het. Al die vee van die Egiptenaars het siek geword en begin vrek. Onder die Israeliete se vee is daar egter nie ’n enkele een dood nie.

7. Die farao het ook mense gestuur om te kyk of dit regtig so is dat daar niks by die Israeliete gevrek het nie. Alhoewel hulle vir hom kom sê het dat dit werklik so is, het hy weer viervoet vasgesteek en bly weier om die volk te laat gaan.

8. Die Here het daarop vir Moses en Aäron beveel: “Gaan krap ’n paar hande vol roet uit ’n oond. Moses moet dit voor die farao in die lug uitstrooi.

9. Dit sal ’n fyn poeier word wat oor die hele Egipte versprei. Dit sal oor die hele land rou sere op mense en diere laat kom.”

10. Hulle het toe roet gevat. Terwyl die farao kyk wat hy doen, het Moses die roet gevat en in die lug gegooi. Daar het toe swere op die mense en die diere se vel gekom.

11. Die Egiptiese towenaars was self so vol sere dat hulle nie eens kon kom kyk of hulle dieselfde as Moses kon doen nie. Die hele Egipte was die ene rowe en sere.

12. Die Here het die farao egter net nog meer hardkoppig laat word. Hy het al minder na hulle geluister. Dit is mos soos die Here gesê het dit sou wees.

13. Die Here het toe vir Moses gesê: “Jy moet môreoggend vroeg opstaan en vra of jy met die farao kan praat. Sê dan vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het van jou geëis: jy moet my volk laat gaan om My te gaan aanbid.

14. Hierdie keer gaan Ek ’n ramp stuur wat jou en die mense wat by jou koninklike paleis werk en jou hele volk baie persoonlik gaan raak. Jy sal nou baie deeglik besef dat daar niemand anders op die aarde is wat soos Ek is nie.

15. Ek moes eintlik al lankal my krag gebruik het om jou en jou mense met ’n ramp van die aarde af weg te vee.

16. Ek het jou egter gespaar sodat my Naam oor die hele wêreld bekend sal word wanneer jy sien hoe sterk Ek werklik is.

17. Jy het mos aangehou om moedswillig met my volk te wees. Jy wou hulle nie laat gaan nie.

18. Ek gaan môre hierdie tyd ’n vernietigende haelstorm oor Egipte laat losbars soos hierdie land in sy hele geskiedenis nog nie gesien het nie.

19. Jy moet betyds jou mense beveel om al jou vee en alles wat buite is, dadelik onderdak te bring. Die hael sal al die mense en diere doodslaan wat nie beskerm word nie.’”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 9