Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28:29-41 Die Boodskap (DB)

29. So sal Aäron altyd die name van die families van Israel wat op die sak voor sy bors vasgesit is, aan sy lyf dra wanneer hy in die tent ingaan om hulle name voor die Here te bring.

30. Jy moet die ‘urim’ en ‘tummim’ waarmee God se besluit bepaal word, in die sak sit wat hy oor sy bors dra. Aäron moet dit altyd aanhê wanneer hy voor die Here kom. So dra Aäron God se besluite altyd aan sy lyf.”

31. “Daar moet ook ’n deel gemaak word wat nie moue het nie. Dit kom bo-oor die deel wat oor die skouers gehang word. Dit word van blou materiaal gemaak.

32. Dit moet ’n gat in die middel hê waardeur die kop gesteek kan word. Hierdie opening moet omgeboor en versterk wees sodat dit nie kan skeur nie.

33-34. Al om die soom van hierdie deel moet jy om die beurt blou, pers en bloedrooi tosseltjies vaswerk, afgewissel met goue klokkies wat reg rondom die hele kledingstuk gaan.

35. Aäron moet dit aanhê wanneer hy sy werk in die tent kom doen. Wanneer hy in die tent ingaan na die Here toe en wanneer hy weer daar uitkom, sal die klokkies lui. Hy sal dan niks kan oorkom nie.

36. “Maak ’n blom van suiwer goud. Graveer daarop: ‘Vir die Here alleen.’

37. Bind die goue blom met ’n blou toutjie aan die voorkant van sy hoed vas.

38. Aäron moet dit altyd op sy voorkop dra sodat die Israeliete in die Here se goeie boekies kan bly. Dit is ’n teken op Aäron se voorkop dat hy verantwoordelik gehou sal word as Israel verkeerd doen en nie aan die Here getrou is nie.

39. Jy moet die hemp vir Aäron van fyn linne maak. Die hoed op sy kop moet ook daarvan gemaak word. Die gordel wat hy om sy heupe vassit, moet met borduurwerk versier wees.”

40. “Jy moet ook vir Aäron se seuns klere laat maak vir hulle werk by die tent. Maak vir hulle gordels en hoede wat hulle van ander mense kan onderskei.

41. Laat Aäron, jou broer, en sy seuns wat saam met hom is, hierdie klere aantrek. Gooi olie uit op hulle koppe en stel hulle aan as die mense wat vir My by die tent werk. Stel hulle aan My voor en bevestig hulle in hulle ampswerk as my priesters.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 28