Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 19:14-23 Die Boodskap (DB)

14. Moses het toe van die berg afgeklim. Hy het teruggegaan na die volk toe en hulle aangesê om hulle gereed te kry om die Here te ontmoet. Hulle het hulleself begin regkry en hulle klere gewas.

15. Moses het vir die volk gesê: “Kry julleself reg vir die belangrike gebeurtenis wat oormôre gebeur. Julle moet tot dan toe nie by mekaar slaap nie.”

16. Op die oggend van die derde dag was daar donderslae en weerlig. Daar het swaar, donker wolke oor die berg gehang. ’n Trompet het baie hard geblaas. Die hele volk het begin bewe daar in die kamp.

17. Moses het die volk toe uit die kamp laat kom om die Here by die berg te gaan ontmoet. Hulle het by die voet van die berg gaan staan.

18. Die Here het afgekom na die berg toe. Daar was vuurvlamme om Hom. Die hele berg Sinai was toe onder die rook. Dit was soos die rook wat uit ’n oond borrel. Die hele berg het geskud.

19. Die trompet het al hoe harder geblaas. Moses het met God gepraat en die Here het hom met donderslae geantwoord.

20. Die Here het afgekom na die top van berg Sinai toe. Hy het vir Moses geroep om op te klim boontoe. Moses het daarnatoe opgeklim

21. en die Here het daar vir hom gesê: “Klim af en gaan waarsku die volk dat hulle nie by die lyn wat jy om die berg gespan het, moet probeer verbykom nie. Hulle moet nie kom probeer kyk hoe die Here lyk nie. Almal wat by die lyn probeer verbykom, sal dood neerval.

22. Selfs die mense wat vir My offers bring, moet op ’n veilige afstand bly staan as hulle nie wil hê die Here moet iets met hulle laat gebeur nie.”

23. Moses het vir die Here gesê: “Die volk kan nie hier teen die berg uitklim nie. U het ons tog self gewaarsku om dit af te sper omdat dit die plek is wat vir U eenkant gehou word.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 19