Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:22-38 Die Boodskap (DB)

22. Julle moet die bloed in ’n bak opvang. Doop ’n takkie van ’n hisopboom in die bloed en verf daarvan aan die bokant en die sykante van julle huise se deurkosyne. Niemand mag uit sy huis uit weggaan voor die volgende oggend nie.

23. Wanneer die Here die Almagtige in die nag deur Egipte trek om hulle met die dood te tref en Hy sien die bloed aan julle deurkosyne, sal Hy by daardie huis verbygaan. Hy sal nie die verwoester toelaat om daar in te gaan om die oudste seun dood te maak nie.

24. “Julle moet altyd onthou wat daar gebeur het. Julle en julle kinders moet elke jaar op daardie dag terugdink aan wat daar in Egipte gebeur het.

25. Wanneer julle in die land gaan woon wat die Here vir julle beloof het, moet julle hierdie fees elke jaar hou sonder om dit een keer oor te slaan.

26. Wanneer julle kinders vir julle vra hoekom julle hierdie fees hou,

27. moet julle vir hulle sê: ‘Ons slag die paaslam vir die Here omdat Hy by die huise van die Israeliete verbygegaan het toe Hy die oudste seuns in Egipte laat doodgaan het. Hy het ons huise gespaar en nie ons kinders laat doodgaan nie.’” Die volk het toe neergeval en tot die Here gebid.

28. Hulle het teruggegaan na hulle huise toe en presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het.

29. Teen middernag het die Here deur Egipte begin trek. Hy het in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Van die oudste seun van die farao wat na hom sou koning word, tot by die oudste seun van die man wat in die tronk sit, is almal dood. Selfs onder die vee het dié wat eerste gebore is, gevrek.

30. Die farao en al sy belangrikste mense en al die mense wat in Egipte bly, het daardie nag uit die bed uit opgestaan. ’n Hartverskeurende gehuil kon deur die hele Egipte gehoor word. Daar was nie een enkele huis waarin daar nie daardie nag iemand dood is nie.

31. Terwyl dit nog nag was, het die farao Moses en Aäron laat kom. Hy het by hulle gepleit: “Loop asseblief weg uit my land uit! Gee tog pad van my volk af, julle en al wat ’n Israeliet is! Loop aanbid die Here soos julle aangehou het om te vra.

32. Vat al julle kleinvee en al julle beeste saam waarop julle so aangedring het om saam met julle te vat. Gaan tog net weg. Moenie my verder iets toewens wat sleg is nie.”

33. Ook al die Egiptenaars het by die volk gepleit dat hulle tog so gou moontlik moet weggaan. “Anders,” het hulle gesê, “sal ons nog almal doodgaan.”

34. Die volk het die deeg wat hulle vir die brood geknie het, net so sonder suurdeeg in broodpanne gesit. Hulle het dit in klere toegedraai en op hulle skouers gesit om dit weg te vat.

35. Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle silwer en goue juweliersware en klere te gee.

36. Die Here het gemaak dat die Egiptenaars gewillig was om dit vir hulle te gee. Hulle het nie omgegee om vir die Israeliete alles te gee wat die volk van hulle gevra het nie. Die Israeliete het die Egiptenaars behoorlik kaal uitgetrek.

37. Die Israeliete het te voet van Rameses af begin loop in die rigting van Sukkot. As hulle afhanklikes nie bygereken word nie, was daar altesaam 600 000 mans.

38. Daar het ook ’n hele klomp mense saam met hulle getrek wat nie Israeliete was nie. Daar was ook ’n groot klomp kleinvee en beeste.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12