Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:20-33 Die Boodskap (DB)

20. “Die Here sal self teëspoed en moeilikheid oor jou pad stuur. Niks wat jy doen, sal uitwerk nie. Dit sal so aanhou totdat jy uiteindelik vernietig en bankrot is. Dit gebeur omdat jy slegte dinge gedoen het. Jy het die Here se pad verlaat.

21. “Die Here sal siektes stuur wat jou mense sal uitroei. Hulle sal doodgaan totdat daar later niemand meer in die land oorbly nie, die land wat jy binnekort sal ingaan om as jou eie land vir jou te vat.

22. Die Here sal tering en inflammasie en koorssiektes stuur om jou lewe te vergal. Jou land sal ly onder hittegolwe en oorloë. Jou oeste sal vergaan omdat daar siektes en roes onder die plante kom. Hierdie moeilikhede sal al agter jou aanloop totdat jy heeltemal vernietig is.

23. Jy sal nie reën kry nie. Die lug sal so hard soos koper wees en die aarde so hard soos yster. Jy sal niks kan plant nie.

24. Die Here sal die bietjie reën wat val in stof verander en dit sal oor jou waai totdat jy geheel en al uitgeroei is.

25. “Die Here sal jou vyande in staat stel om jou te wen. Jy sal jou vyande uit een rigting aanval, maar hulle sal jou in sewe rigtings jaag soos jy weghardloop. Al die mense van die aarde sal die kop oor jou skud. Jy sal bewe, so bang is jy vir ander nasies.

26. Die voëls en die wilde diere sal julle lyke vreet en niemand sal hulle wegjaag nie.

27. “Die Here sal jou teister met die siektes wat jy in Egipte geken het.

28. Jy sal kranksinnig en blind word en van jou kop af raak.

29. Jy sal helder oordag rondtas en oor alles val, net soos ’n blinde mens wat niks kan sien nie. Alles wat jy doen, sal misluk. Jy sal verdruk word. En jy sal beroof word. Niemand sal aanbied om jou te help nie.

30. “Jy sal aan ’n vrou verloof wees, maar hoor dat ’n ander man haar verkrag het. Jy sal ten duurste ’n huis bou, maar iemand anders sal daarin gaan bly. Jy sal ’n wingerd aanlê, maar iemand anders sal die vrugte daarvan geniet.

31. Hulle sal jou osse voor jou oë slag, maar hulle sal nie eens aanbied om vir jou ’n stukkie van die vleis te gee nie. Hulle sal jou donkie wegjaag en jy sal hom nooit weer sien nie. Jou vyande sal jou skape vir hulleself vat. Niemand sal jou help as hulle jou besteel en beroof nie.

32. “Jy sal sien hoe jou seuns en dogters deur jou vyande weggevat word om sonder betaling vir ander te gaan werk, en jy sal niks daaraan kan doen nie. Jou hart sal breek soos jy na hulle verlang. Maar niks wat jy doen, sal iets aan die situasie verander nie.

33. “’n Vreemde nasie van wie jy nog nooit gehoor het nie, sal die oeste opeet waaraan jy so hard gewerk het en wat jou so baie geld gekos het. Hulle sal jou aanhoudend sleg behandel en jou verdruk.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28