Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 9:23-27 Die Boodskap (DB)

23. Die oomblik toe jy begin bid, het God reeds besluit wat Hy gaan doen. Omdat God jou baie liefhet, het Hy my gestuur om vir jou te kom vertel wat gaan gebeur. Luister nou baie mooi sodat jy kan verstaan.

24. “Daar is 70 tydperke wat vasgestel is vir jou volk en hulle heilige stad: om ’n einde te maak aan hulle opstandigheid, om te vergeet van hulle mislukkings, om hulle goddeloosheid weg te vee en om God se reg te laat geskied. So sal my woorde en die visioen in vervulling gaan en die tempel weer in God se diens staan.

25. “Let op sodat jy dit reg kan verstaan! Vandat die opdrag gegee word dat Jerusalem herstel moet word totdat die leier wat God self gekies het, op die toneel verskyn, sal daar sewe keer sewe jaar verbygaan. Dit sal sewe maal 62 jaar neem om Jerusalem weer op te bou met strate en veilige mure. Dit gaan moeilike tye wees.

26. Aan die einde van die tydperk sal ’n leier onregverdig doodgemaak word. Die stad en die tempel sal deur ’n ander magtige leier se soldate verwoes word. Dan sal die einde, die oorlog en verwoesting wat God beplan het, soos ’n vloed kom en alles wegspoel.

27. Daardie leier sal ’n ooreenkoms van een maal sewe jaar met baie mense aangaan. Wanneer die helfte van hierdie tyd verby is, sal hy die diereoffers en die graanoffers in die tempel verbied. Hy sal ’n afstootlike afgodsbeeld op die altaar in die tempel neersit, ’n ding wat tot opstand sal lei. Die ding sal daar bly staan tot op die dag dat hierdie leier sy verdiende loon kry wat God vir hom beplan het.”

Lees volledige hoofstuk Daniël 9