Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 7:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het my in ’n gesig ’n swerm sprinkane laat sien. Die gras vir die koning se perde was net mooi afgesny en die eerste grassies het weer begin uitspruit. Die swerm sprinkane het op die gras toegesak.

2. Toe ek sien dat hulle al die nuwe gras gaan wegvreet, het ek gesê: “Here, moet asseblief nie so hard wees nie. Jakob is mos maar klein en swak. Hoe sal hulle na so iets nog kan bly leef?”

3. Die Here het hulle toe jammer gekry. Hy het gesê: “Ek sal dit nie met hulle laat gebeur nie.”

4. Die Here het my in ’n gesig laat sien hoe Hy ’n skroeiende vuur gebruik om sy volk mee te straf. Dit het eers die onderaardse water laat opdroog. Toe dit ook die grond begin wegbrand,

5. het ek by die Here gepleit: “Hou asseblief tog op. Hoe sal die swak en nietige Jakob na so iets nog kan bly leef?”

6. Die Here het toe sy plan verander. Hy het gesê: “Ek sal dit nie laat gebeur nie.”

7. Die Here het my in ’n gesig laat sien waar Hy by ’n muur staan. Hy het ’n maatband in sy hand gehou.

8. Die Here vra toe vir my: “Amos, wat sien jy, wat het Ek hier in my hand?” Ek antwoord toe: “’n Maatband waarmee ’n mens meet of alles volgens die planne gebou is.” Die Here sê toe: “Ek gaan hierdie maatband gebruik om my volk Israel te meet. Ek gaan dit nie verder verdra dat hulle so verkeerd leef nie.

9. Die plekke wat Isak gebou het om op te offer, gaan afgebreek word. Van die aanbiddingsplekke wat Israel vir my gebou het, gaan daar net murasies oorbly. Ek gaan oorlog laat uitbreek teen die huis van koning Jerobeam.”

Lees volledige hoofstuk Amos 7