Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 3:6-13 Die Boodskap (DB)

6. Wanneer die oorlogstrompet blaas, is dit vanselfsprekend dat mense sal skrik. Wanneer ’n ramp ’n stad tref, is dit vanselfsprekend dat dit van die Here kom.

7. Die Here laat niks gebeur as Hy dit nie eers voor die tyd vir sy boodskappers gesê het nie.

8. Die leeu het gebrul. Wie is daar wat nie nou bang is nie? My Heer, die Here, het gepraat. Watter profeet sal nie vinnig die boodskap bring nie?

9. Gaan nooi die mense in die paleise van Assirië uit. Gaan roep die mense in die paleise van Egipte. Vra hulle om op die heuwels rondom Samaria te kom staan. Sê vir hulle om te kom kyk hoe deurmekaar alles in die stad is, hoe mense daar verdruk word.

10. “Die mense wat in die stad bly, weet lankal nie meer wat dit beteken om eerlik te wees nie,” sê die Here. “Alles wat hulle met geweld afgeneem en by ander gesteel het, bêre hulle in hulle luukse huise.

11. Daarom,” sê die Here, “sal ’n vyand kom en die land van alle kante af aanval. Hulle sal die mure van die stad afbreek. Hulle sal julle pragtige huise in die stad kom kaalstroop.”

12. Die Here sê: “Al wat iemand wat skape oppas, nog kan red as ’n leeu die skaap gevang het, is sy twee pote of ’n stukkie van sy oor. Net so sal al wat van die mense van Samaria oorbly, die pote van ’n bed wees of ’n stukkie materiaal wat oor ’n bank gegooi word.

13. “Luister nou na My en gaan waarsku Jakob se nageslag,” sê die Here wat met krag regeer.

Lees volledige hoofstuk Amos 3