Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 6:10-21 Die Boodskap (DB)

10. Hy wou toe nie meer die ark van die Here in die Stad van Dawid hê nie. Dawid het die wa laat wegdraai na Obed-Edom se huis toe, ’n man wat van Gat af gekom het.

11. Die ark van die Here het vir drie maande in Obed-Edom se huis gestaan. Die Here was baie goed vir Obed-Edom en sy hele familie.

12. Die mense het vir koning Dawid gaan vertel dat die Here goed is vir Obed-Edom se familie en dat dit so goed gaan met alles wat hy het omdat die ark van God by hom is. Dawid het toe die ark van God by Obed-Edom se huis laat haal. Dit was ’n vrolike optog:

13. toe die mense wat die kis dra ses treë geloop het, het Dawid ’n bul en ’n vet kalf vir die Here geslag.

14. Daarna het hy gedans so al wat hy kon. Hy het net ’n priesterrokkie aangehad.

15. So het Dawid en al die leiers van Israel die ark van die Here Jerusalem toe gevat. Hulle was bly en het geskree en op ramshorings geblaas.

16. Toe die ark in die Stad van Dawid inkom, het Mikal, Saul se dogter, deur die venster gekyk en gesien hoe bokspring en dans die koning daar by die ark van die Here. Sy het al haar respek vir hom verloor.

17. Hulle het die ark ingevat en dit op ’n spesiale plek neergesit in ’n tent wat Dawid laat opslaan het. Dawid het daar by die tent offers verbrand en diere geslag vir die heilige ete.

18. Nadat die mense geëet het, het Dawid hulle in die Naam van die magtige Here voorspoed toegewens.

19. Hy het vir elke Israeliet wat daar was, mans en vroue, ’n ringbroodjie en ’n hand vol dadels en rosyntjies gegee. Almal is daarna huis toe.

20. Toe Dawid ook huis toe gaan om sy eie familie voorspoed toe te wens, het Mikal, Saul se dogter, uitgekom en ewe sarkasties gesê: “Ag, en het die koning van Israel nie vandag vir hom naam gemaak nie! Die meisies wat vir sy amptenare werk, het alles gesien! Hy was net soos ’n skorriemorrie wat sy klere voor meisies uittrek!”

21. Dawid het vir haar gesê: “Hoor hier, ek het vir die Here gedans omdat Hy my bo jou pa gekies het en bo enigiemand in jou pa se familie. Ek het gedans omdat die Here my die leier van sy volk, van Israel, gemaak het.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 6