Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 3:8-23 Die Boodskap (DB)

8. Hieroor het Abner hom bloedig vererg. Hy sê toe vir Is-Boset: “Dink jy miskien ek is ’n skelm hond wat jou koningskap wil afneem omdat ek aan Juda se kant is? Ek was nog altyd getrou aan Saul, jou pa, se regering, aan sy familie en aan sy vriende. Ek het ook gekeer dat Dawid jou in die hande kry. En nou kom beskuldig jy my dat ek met hierdie vrou gelol het!

9-10. God kan my maar baie swaar straf as ek nie doen wat ek nou vir jou gaan sê nie: Ék sal sorg dat die koningskap van Saul se familie af weggevat en aan Dawid gegee word soos die Here hom belowe het. Dan sal hy koning wees oor die hele Israel en Juda, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide.”

11. Is-Boset was so bang vir Abner, hy het nie ’n woord gesê nie.

12. Abner het mense na Dawid gestuur om vir hom te gaan sê: “Eintlik behoort die land aan jou. As jy met my ’n ooreenkoms maak, sal ek sorg dat al die Israeliete jou kant kies.”

13. Dawid se antwoord was: “Dis goed so, ek sal ’n ooreenkoms met jou maak; maar op een voorwaarde: jy kom nie hier by my aan sonder Mikal, Saul se dogter, nie.”

14. Dawid stuur toe ook ’n boodskap vir Is-Boset, Saul se seun: “Gee my vrou Mikal vir my terug. Sy is my wettige vrou; ek het vir haar met die voorhuide van 100 Filistyne betaal.”

15. Is-Boset het haar laat haal by Paltiël, die seun van Lajis.

16. Haar man wou haar nie laat gaan nie. Hy het al huilende agter haar aangeloop tot by Bagurim. Toe Abner vir hom sê: “Gaan terug!” het hy maar omgedraai.

17. Abner het intussen met die leiers van Israel gepraat en vir hulle gesê: “Dis mos nou al ’n hele ruk wat julle graag wil hê Dawid moet julle koning wees.

18. Dis nóú julle kans! Onthou, die Here het gesê Hy gaan Dawid gebruik om sy volk, die Israeliete, vry te maak van die Filistyne en van al hulle ander vyande.”

19. Abner het ook self met die mense van die Benjaminstam gaan praat. Daarna het hy Hebron toe gegaan om self vir Dawid te sê dat die Israeliete en al die mense van die Benjaminstam tevrede was met die reëling.

20. Abner het in Hebron by Dawid aangekom met twintig manne saam met hom. Dawid het vir hom en sy manne ’n groot ete reggemaak.

21. By die ete sê Abner vir Dawid: “U Majesteit, ek gaan die leiers van al die Israeliete hier na u toe bring sodat hulle met u ’n ooreenkoms kan maak. Dan kan u wens waar word en kan u koning wees oor die hele land.”Na die tyd het Dawid vir Abner laat gaan. Hulle is as goeie vriende uitmekaar.

22. Net nadat Abner so sonder dat iets aan hom gedoen is, weg is uit Hebron, het Joab saam met Dawid se soldate daar aangekom. Hulle was weer op ’n strooptog en het sommer baie goed by hulle gehad.

23. Toe hulle daar aankom, vertel die mense vir Joab dat Abner, Ner se seun, by die koning was en dat die koning hom laat gaan het sonder om iets aan hom te doen.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 3