Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 24:14-25 Die Boodskap (DB)

14. Dawid het vir Gad gesê: “Ek is diep in die moeilikheid! Al wat ek kan sê, is: ek wil nie aan mense uitgelewer wees nie. Laat ons liewer aan die Here uitgelewer wees, want Hy sal ons jammer kry.”

15. Die Here het daardie môre ’n pessiekte in Israel laat uitbreek wat vir drie dae aangehou het. In die hele land is daar 70 000 mense dood.

16. Toe die doodsengel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om ook dáár dood en verwoesting te saai, het die Here spyt gekry oor die verskriklike ramp en gesê: “Wag, dis nou genoeg. Moenie verder gaan nie.”Die engel van die Here was op daardie stadium by ’n groot klipplaat waar Arauna, ’n Jebusiet, sy koring dors.

17. Toe Dawid sien hoe die engel die mense platslaan, sê hy vir die Here: “Dis ék wat gesondig het. Dis ék wat verkeerd gedoen het. Hierdie arme mense verdien dit nie om soos skape geslag te word nie. Straf my en my familie liewer.”

18. Gad het dieselfde dag na Dawid toe gekom en gesê: “Gaan bou ’n altaar vir die Here op daardie klipplaat waar Arauna die Jebusiet sy koring dors.”

19. Dawid het toe na die klipplaat toe opgeklim soos die Here vir hom gesê het in die boodskap wat Gad gebring het.

20. Toe Arauna afkyk en sien die koning en sy amptenare is op pad na hom toe, het hy gegaan en met sy gesig teen die grond voor die koning gebuig.

21. Arauna vra toe: “U Majesteit, waarom kom u na my toe?”“Ek wil jou dorsvloer koop om vir die Here ’n altaar te bou,” sê Dawid vir hom, “sodat die pessiekte wat die mense doodmaak, kan ophou.”

22. “Vat dit, U Majesteit,” sê Arauna vir Dawid, “offer net wat u wil. U kan my beeste slag en die dorsslee en jukke vir vuurmaakhout gebruik.

23. U Majesteit, Arauna gee dit alles vir u. En mag die Here u offer aanvaar.”

24. “Nee, Arauna,” sê Dawid, “ek gaan jou definitief die volle prys betaal. Ek kan nie vir die Here my God offer sonder dat dit my iets gekos het nie.”Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir 50 silwerstukke by hom gekoop.

25. Dawid het daar vir die Here ’n altaar gebou en offerdiere geslag. Party het hy heeltemal verbrand en die ander is vir die heilige ete gaargemaak. Die Here het toe die mense se gebede beantwoord en die pessiekte laat ophou.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 24