Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 20:3-17 Die Boodskap (DB)

3. Toe Dawid in sy paleis in Jerusalem kom, het hy die tien haremvroue wat hy daar gelos het om die paleis op te pas gevat en hulle eenkant in ’n huis laat oppas. Hy het vir hulle gesorg, maar hy het nooit weer by hulle geslaap nie. Solank hulle geleef het, het hulle so eenkant gebly. Hulle was eintlik maar so te sê weduwees.

4. Die koning het vir Amasa gesê: “Maak al die manne van Juda wat kan veg, vir my binne drie dae bymekaar. Sorg dat jy self ook hier is.”

5. Amasa het die manne bymekaar gaan maak, maar dit het langer gevat as drie dae.

6. Toe sê Dawid vir Abisai: “Seba, daardie seun van Bikri, gaan nou vir ons meer probleme gee as Absalom. Vat jý my soldate en kry hom in die hande voor hy dalk in ’n stad ingaan wat mure om het en onder ons oë uit is.”

7. Abisai is toe met Joab en sy manne en die koning se lyfwag en sy dapper soldate van Jerusalem af agter Seba aan.

8. By die groot klip in Gibeon het Amasa na hulle toe gekom. Joab het sy oorlogsklere aangehad. Hy het sy swaard in ’n skede bo-oor sy klere vasgemaak. Toe hy vorentoe kom, het sy swaard uitgeval.

9. Joab sê vir Amasa: “En hoe gaan dit, ou broer?” en hy vat hom met sy regterhand aan die baard asof hy vir Amasa wil soen.

10. Amasa het nooit die mes in Joab se ander hand gesien nie. Hy het Amasa se maag oopgekloof sodat sy binnegoed op die grond geval het. Dit was nie nodig om hom ’n tweede steek te gee om hom dood te maak nie. Joab en sy broer Abisai het toe maar net verder geloop om Seba te gaan soek.

11. Een van Joab se manne het by Amasa gaan staan en geskree: “As julle van Joab hou en vir Dawid is, volg Joab!”

12. Amasa het in die middel van die pad in ’n plas bloed gelê en krul van die pyn. Toe die man sien al die manskappe gaan by Amasa staan, het hy hom uit die pad gesleep die veld in. Toe hy sien almal gaan staan nog om te kyk, het hy hom met klere toegegooi.

13. Daarna het al die manskappe agter Joab aangegaan om vir Seba, seun van Bikri, te gaan soek.

14. Joab het by al die stamme van Israel gesoek tot hy Seba in Abel (dis nou Bet-Maäka) gekry het. Al die Beriete het bymekaargekom en ook saam met Joab gegaan.

15. Hulle het Seba in Abel-Bet-Maäka vasgekeer. Hulle het ’n skuins wal teen die voormuur van die stad gepak en so kon al die soldate by die groot muur om die stad kom. Hulle het teen die muur gestamp om dit te laat val.

16. ’n Slim vrou het bo van die muur af geskree: “Haai, hoor hierso! Sê asseblief vir Joab hy moet hiernatoe kom! Ek wil met hom praat!”

17. Joab het nader gegaan en die vrou het vir hom gevra: “Is u Joab?”“Ja,” antwoord Joab.“Kan ek maar vir u iets sê?” vra sy.“Ja, ek luister,” sê hy.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 20