Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:7-22 Die Boodskap (DB)

7. Die Israeliete het die geveg teen Dawid se manskappe verloor. Daar is daardie dag baie van die Israeliete daar in die bos dood, omtrent 20 000.

8. Die gevegte was naderhand oor ’n wye gebied en daar is meer mense in die bos dood soos hulle gevlug het, as wat daar met die swaard doodgesteek is.

9. Absalom het hom in Dawid se manskappe vasgeloop. Hy het op ’n muil gery. Toe die muil onder die digte takke van ’n groot boom deurgaan, het Absalom se kop in die takke vasgehaak. Die muil is onder hom uit sodat hy daar tussen hemel en aarde bly hang het.

10. Een van Dawid se manne het dit gesien en vir Joab gaan vertel. Hy het gesê: “Ek het Absalom daar aan ’n boom sien hang.”

11. “Wat?” sê Joab vir die man. “Het jy hom regtig gesien? En hoekom het jy hom nie net daar doodgemaak nie? Ek sou vir jou baie geld én ’n leerbelt gegee het!”

12. “Nee,” sê die man vir Joab, “al gee u my ’n hoop geld, sal ek nie my hand optel vir die koning se seun nie. Ons het self gehoor toe die koning vir u en Abisai en Ittai gesê het dat niemand sy seun Absalom moet seermaak nie.

13. As ek hom dalk doodgemaak het, sou die koning uitgevind het wie dit gedoen het, en dan sou u nie vir my opkom nie.”

14. “Ek kan nie my tyd hier by jou staan en mors nie,” sê Joab, en hy gryp drie spiese en gaan steek Absalom daarmee in die bors waar hy nog so lewendig in die boom hang.

15. Tien van Joab se wapendraers het op Absalom toegesak en hom doodgeslaan.

16. Joab het op ’n ramshoring geblaas. Dit was die teken dat die soldate nie die Israeliete verder moes jaag nie.

17. Hulle het Absalom se lyk gevat en dit in die bos in ’n groot gat gegooi. Toe het hulle hom met ’n groot hoop klippe toegepak. Intussen het al die Israeliete na hulle huise toe gevlug.

18. In die Koningslaagte by Jerusalem is daar ook iets wat ’n mens aan Absalom laat dink. Hy het self daar ’n groot klip regop gesit en gesê: “Ek het mos nie ’n seun wat sal sorg dat ek onthou word nie.” Hy het die regop klip “Absalom se pilaar” genoem. Dis vandag nog die klip se naam.

19. Sadok se seun Agimaäs het vir Joab gesê: “Ek wil graag hardloop en vir die koning die goeie nuus gaan vertel dat die Here sy vyande reggesien het.”

20. “Nee man,” sê Joab vir hom, “jy kan nie vandag die nuus vir hom gaan vertel nie. Jy kan op ’n ander dag vir hom ’n boodskap vat. Vandag gaan jy nie. Onthou, dis darem die koning se seun wat dood is.”

21. Toe sê Joab vir ’n man uit Afrika wat daar by hom is: “Gaan vertel jý vir die koning wat jy gesien het.”Die man het voor Joab gebuig en in die pad geval.

22. Agimaäs hou toe aan by Joab en sê vir hom: “Kan ék nie asseblief ook maar agter daardie man aanhardloop nie?”“Maar my liewe mens,” sê Joab, “hoekom wil jy so graag die nuus gaan vertel? Jy sal nie geld kry daarvoor nie!”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18