Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:13-23 Die Boodskap (DB)

13. As ek hom dalk doodgemaak het, sou die koning uitgevind het wie dit gedoen het, en dan sou u nie vir my opkom nie.”

14. “Ek kan nie my tyd hier by jou staan en mors nie,” sê Joab, en hy gryp drie spiese en gaan steek Absalom daarmee in die bors waar hy nog so lewendig in die boom hang.

15. Tien van Joab se wapendraers het op Absalom toegesak en hom doodgeslaan.

16. Joab het op ’n ramshoring geblaas. Dit was die teken dat die soldate nie die Israeliete verder moes jaag nie.

17. Hulle het Absalom se lyk gevat en dit in die bos in ’n groot gat gegooi. Toe het hulle hom met ’n groot hoop klippe toegepak. Intussen het al die Israeliete na hulle huise toe gevlug.

18. In die Koningslaagte by Jerusalem is daar ook iets wat ’n mens aan Absalom laat dink. Hy het self daar ’n groot klip regop gesit en gesê: “Ek het mos nie ’n seun wat sal sorg dat ek onthou word nie.” Hy het die regop klip “Absalom se pilaar” genoem. Dis vandag nog die klip se naam.

19. Sadok se seun Agimaäs het vir Joab gesê: “Ek wil graag hardloop en vir die koning die goeie nuus gaan vertel dat die Here sy vyande reggesien het.”

20. “Nee man,” sê Joab vir hom, “jy kan nie vandag die nuus vir hom gaan vertel nie. Jy kan op ’n ander dag vir hom ’n boodskap vat. Vandag gaan jy nie. Onthou, dis darem die koning se seun wat dood is.”

21. Toe sê Joab vir ’n man uit Afrika wat daar by hom is: “Gaan vertel jý vir die koning wat jy gesien het.”Die man het voor Joab gebuig en in die pad geval.

22. Agimaäs hou toe aan by Joab en sê vir hom: “Kan ék nie asseblief ook maar agter daardie man aanhardloop nie?”“Maar my liewe mens,” sê Joab, “hoekom wil jy so graag die nuus gaan vertel? Jy sal nie geld kry daarvoor nie!”

23. “Nee, ek wil maar net hardloop,” sê Agimaäs.“Nou hardloop dan maar,” sê Joab.Agimaäs spring toe daar weg en vat die pad deur die Jordaanvallei. Naderhand is hy voor die man uit Afrika.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18