Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 35:2-13 Die Boodskap (DB)

2. Hy het die priesters se take aan hulle toegewys en hulle aangemoedig om hulle plig by die tempel van die Here te doen.

3. Hy het vir die Leviete, wat afgesonder was vir die Here en wat Israel geleer het hoe om die Here te dien, gesê: “Die ark met die ooreenkoms tussen die Here en sy volk is nou in die tempel wat Salomo gebou het. Terwyl julle dit nou nie meer heen en weer hoef te dra nie, moet julle die Here julle God en sy volk, Israel, steeds dien.

4. Meld aan vir diens volgens julle diensgroepe soos koning Dawid dit laat opskryf het en volgens Salomo se voorskrifte.

5. Gaan staan op die plekke in die heiligdom wat aan julle toegewys is. Help die mense vir wie julle verantwoordelik is, wanneer hulle hulle offers na die tempel bring.

6. Slag die paaslammers, maak julleself dan skoon en berei die offer soos dit voorgeskryf word in die Here se wet wat Hy deur Moses gegee het.”

7. Josia het vir die gewone mense wat die paasfees kom vier het skaap- en boklammers gegee om as offers te gebruik. Hy het uit sy eie kuddes 30 000 stuks kleinvee en 3 000 beeste aan die mense voorsien.

8. Sy hoë amptenare het ook vrywillig bygedra, sodat die gewone mense, die priesters en die Leviete paasfees kon vier. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel, het 2 600 stuks kleinvee en 300 beeste as paasoffers vir die priesters gegee.

9. Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het 5 000 lammers en 500 beeste as paasoffers vir die Leviete geskenk.

10. Alles was gereed vir die viering van die paasfees. Die priesters het op hulle plekke gestaan en die Leviete het in hulle afdelings aangetree soos die koning beveel het.

11. Die Leviete het die paaslammers geslag. Hulle het die bloed vir die priesters gegee, wat dit teen die altaar uitgegooi het, terwyl die Leviete die lammers afgeslag en voorberei het.

12. Hulle het die deel wat verbrand moes word, eenkant gesit om dit vir die gewone mense volgens hulle familiegroepe te gee. Hulle kon dit dan weer op die voorgeskrewe manier offer, soos die Here deur Moses beveel het. Hulle het dieselfde met die beeste gedoen.

13. Hulle het die paaslammers oor die kole gebraai soos dit voorgeskryf is en die ander gawes is in potte, ketels en panne gekook. Alles is so vinnig moontlik onder die gewone mense versprei, sodat hulle kon eet.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 35