Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 34:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Josia was net agt jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 31 jaar lank in Jerusalem regeer.

2. Josia se optrede het die Here baie tevrede gestel. Hy het soos sy voorvader Dawid regeer, sy hele lewe lank.

3. In Josia se agtste regeringsjaar, toe hy nog maar jonk was, het hy begin doen wat die God van sy voorvader Dawid graag wou hê. Toe hy twaalf jaar lank koning was, het hy Juda en Jerusalem begin skoonmaak van die heidene se heilige plekke, die Asjerapale en die hout- en metaalbeelde wat ter ere van ander gode opgerig is.

4. Hy het seker gemaak dat die altare vir die Baäls afgebreek word en dat die wierookaltare wat bo-op hierdie altare was, stukkend gebreek word. Hy het die pale ter ere van die afgod Asjera en die hout- en metaalbeelde gebreek, tot poeier fyngemaak en dit oor die priesters, wat daar geoffer het, se grafte gegooi.

5. Hy het hulle beendere uit die grafte gehaal en op die altare verbrand. Op hierdie manier het Josia Juda en Jerusalem heeltemal skoongemaak van al die afgode.

6. Josia het dieselfde gedoen in die dorpe Manasse, Efraim en Simeon, tot so ver as Naftali. Op die plekke waar afgode gedien is,

7. het hy die altare en die Asjerapale verwoes, die houtbeelde fyngekap en die wierookaltare in stukke gebreek. Hy het dit in die hele gebied van Israel gedoen. Daarna het hy teruggegaan Jerusalem toe.

8. In Josia se agtiende regeringsjaar, terwyl hy besig was om die land en die tempel skoon te maak van al wat ’n afgodsbeeld is, het hy vir Safan, Asalja se seun, Maäseja, die stadsbevelvoerder, en Joag, Joahas se seun en die staatsekretaris, na die tempel van die Here sy God gestuur om dit reg te maak.

9. Hulle het die geld wat die mense as bydraes na die tempel gebring het, vir die hoëpriester Gilkija gaan gee. Dit was geld wat die Leviete as deurwagte bymekaargemaak het. Hulle het dit uit Manasse, Efraim en die res wat van Israel oorgebly het, gekry. Dit is ook van die mense van Juda, Benjamin en Jerusalem gekry.

10. Die geld is aan die kontrakteurs betaal wat moes sorg dat die tempelgebou herstel word. Hulle moes die geld gebruik om die vakmanne te betaal wat die herstelwerk sou doen.

11. Hulle het dit aan die skrynwerkers en bouers betaal wat gekapte bouklippe en hout vir dakkappe moes koop om die tempel te herstel, wat deur die vorige konings van Juda verniel is.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 34