Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 24:16-25 Die Boodskap (DB)

16. Hy is tussen die konings in die Dawidstad begrawe, want hy het vir Israel, vir God en vir die tempel baie beteken.

17. Ná Jojada se dood het die leiers van Juda vir Joas besoek en voor hom neergebuig. Hulle het hom oortuig om van nou af húlle raad te volg.

18. Hulle het besluit om die tempel van die Here, die God van hulle voorouers, te verwaarloos. Hulle het pale wat ter ere van die afgod Asjera opgerig is, saam met ander afgodsbeelde begin vereer. Hieroor was die Here woedend vir Juda en Jerusalem.

19. Hy het profete gestuur om vir hulle te sê om hulle tot Hom te bekeer, maar hulle wou nie luister nie.

20. Die Here se Gees het toe vir Sagaria in besit geneem. Hy was Jojada, die priester, se seun. Hy het voor die volk opgestaan en vir hulle gesê: “Hier is ’n boodskap van God spesiaal vir julle: Waarom luister julle nie na die Here se opdragte nie? Dit is tot julle eie nadeel! Julle het die Here verlaat, nou gaan Hy julle verlaat.”

21. Die leiers het toe teen Sagaria saamgesweer. Op koning Joas se bevel het hulle hom in die voorhof van die Here se tempel met klippe doodgegooi.

22. Sonder om terug te dink aan Jojada se lojaliteit aan hom, het Joas vir Sagaria, Jojada se seun, laat doodmaak. Sagaria se laaste woorde was: “Mag die Here sien wat hulle doen en hulle daarvoor straf!”

23. Teen die einde van die jaar het die Arameërs Joas aangeval. Hulle het Juda en Jerusalem ingeval en al die leiers doodgemaak. Hulle het al die goed wat hulle gevat het, na hulle koning in Damaskus teruggestuur.

24. Die Aramese leër was baie kleiner as die Judeërs s’n, maar die Here het die Arameërs gehelp. Juda het die Here, die God van hulle voorouers, verlaat. Daarom het Hy hulle die oorlog laat verloor. So is Joas gestraf vir sy sondes.

25. Toe die Arameërs terugtrek, het hulle Joas swaar gewond agtergelaat. Joas se eie amptenare het toe teen hom saamgesweer om hom terug te betaal vir Sagaria se dood. Hulle het Joas in sy bed vermoor.Joas is in die Dawidstad begrawe, maar nie in die koningsgrafte nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 24