Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:10-25 Die Boodskap (DB)

10. Nou het die mense van Ammon, Moab en die Seïrberge saamgetrek om ons aan te val. Destyds, op pad van Egipte af, het U die Israeliete verbied om hulle aan te val. Trouens, die Israeliete het om hulle getrek en hulle nie aangeval en uitgeroei nie.

11. Kyk hoe beloon hulle ons nou daarvoor! Hulle is nou hier om ons uit die land te gooi wat U vir ons as ’n geskenk gegee het.

12. God, sal U hulle stop, asseblief? Ons kan niks teen so ’n oormag doen nie. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons glo dat U ons sal help.”

13. Die hele Juda, mans, vroue en kinders, het almal saam voor die Here gestaan en pleit om hulp.

14. Die Here se Gees het toe deur een van die mans in die vergadering gepraat. Sy naam was Jagasiël, ’n Leviet. Sy voorouers was Sagaria, Benaja, Jeïel en Mattanja. Hulle was lede van die familiegroep van Asaf.

15. Jagasiël het vir die vergadering gesê: “Luister na my, al julle Judeërs en inwoners van Jerusalem! U ook, koning Josafat, luister wat ek te sê het, want die boodskap kom van die Here af. Hy sê: ‘Moenie bang wees of vir die groot leër terugdeins nie. Hierdie geveg is nie júlle probleem nie. Dit is ’n saak wat God self sal uitstryk.

16. Maak reg en trek môre teen hulle uit. Hulle sal met die opdraande van Sis se kant af kom en julle sal hulle kry net daar waar die kloof oopmaak na die Jeruëlwoestyn se kant toe.

17. Julle sal nie eens hoef te veg nie! Neem net julle posisies in, dan sal julle kan sien hoe die Here die geveg vir julle wen. Inwoners van Juda en Jerusalem, die Here is aan julle kant. Moenie bang of skrikkerig wees nie. Gaan môre uit en gaan kyk self hoe die Here julle help.’”

18. Koning Josafat het met sy gesig na die grond toe neergekniel. Al die mense van Juda en Jerusalem het sy voorbeeld gevolg en die Here begin aanbid.

19. Die Leviete uit die Kehat- en die Koraggroep het toe opgestaan en die Here, Israel se God, baie hard begin prys.

20. Die volgende oggend het hulle alles reggekry en na die woestyn in die omgewing van Tekoa vertrek. Terwyl hulle op pad was, het Josafat hulle gestop en gesê: “Luister na my, mense van Juda en Jerusalem. As julle in die Here julle God glo, sal julle sterk kan staan. As julle in sy boodskappers glo, sal julle sukses behaal!”

21. Daarna het hy met die leiers gesels en hulle het besluit om sangers voor die leër te laat uitloop. Die sangers moes die Here loof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie!”

22. Net toe hulle so begin juig en sing, het die Here gesorg dat die leërs van Ammon, Moab en die mense van die Seïrberge af, wat eintlik teen Juda wou kom oorlog maak, teen mekaar begin veg.

23. Eers het die leërs van Ammon en Moab saam teen die mense van die Seïrberge geveg en hulle almal doodgemaak. Toe hulle daarmee klaar was, het hulle teen mekaar begin veg.

24. Toe die Judeërs by hulle uitkykpunt kom, het hulle in die vallei afgekyk en net ’n klomp lyke daar sien lê. Nie een van die vyand het weggekom nie.

25. Daarna het Josafat en sy leër die lyke geplunder en ’n geweldige klomp goed bymekaargemaak. Daar was klere en waardevolle voorwerpe, soveel dat hulle drie dae lank gewerk het om alles bymekaar te kry.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20