Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Amasia, die seun van Joas, het koning van Juda geword. Dit was in die tweede jaar wat koning Joas, die seun van Joahas, in Israel regeer het.

2. Amasia was 25 toe hy koning geword het en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan, afkomstig uit Jerusalem.

3. Wat Amasia gedoen het, het die Here tevrede gestel, maar nie soos sy voorvader Dawid nie. Hy het dieselfde dinge as sy pa Joas gedoen:

4. hy het nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand.

5. Toe die mag stewig in Amasia se hande gevestig was, het hy die amptenare wat sy pa vermoor het, laat doodmaak.

6. Hy het egter nie hulle kinders laat doodmaak nie, want die Here verbied dit in die wetboek van Moses. Daar staan dat ’n ouer nie vir die oortreding van ’n kind, of ’n kind vir die oortreding van ’n ouer die doodstraf kan kry nie. Elkeen moet vir sy eie oortredings gestraf word.

7. Dit was Amasia wat 10 000 Edomiete in die Soutdal verslaan het. Hy het ook die dorp Sela verower en die naam na Jokteël verander, soos dit nou nog genoem word.

8. Op ’n dag het Amasia boodskappers na koning Joas van Israel, die seun van Joahas en kleinseun van Jehu, gestuur. Die boodskap was: “Kom, laat ons teen mekaar veg!”

9. Joas het Amasia met ’n fabel geantwoord: “In die Libanonberg was daar ’n distelbos wat vir die sederboom gesê het: ‘Laat jou dogter met my seun trou.’ Net toe kom daar egter ’n wilde dier verby wat die distelbos vertrap.

10. Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou én die mense van Juda net ongeluk kan bring?”

11. Amasia wou nie luister nie. Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg en hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak.

12. Juda is deur Israel oorwin en die soldate het huis toe gevlug.

13. Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en verder getrek Jerusalem toe. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14