Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 11:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Toe Ahasia se ma, Atalia, gehoor het dat hy dood is, het sy die hele koningsfamilie begin uitwis.

2. Ahasia se suster, Jehoseba, het besef wat Atalia se plan was. Sy het stilletjies een van Ahasia se seuntjies, Joas, tussen die kinders wat doodgemaak sou word, gaan uithaal en weggesteek. Jehoseba het toe vir Joas en die vrou wat hom versorg het in ’n slaapkamer gaan wegsteek en daarom is hy nie doodgemaak nie.

3. Joas is ses jaar lank in die tempel van die Here weggesteek. Dit is hoe lank Atalia oor Juda regeer het.

4. Gedurende Atalia se sewende jaar op die troon het die priester Jojada die offisiere van die koninklike wag en die tempelwagte na hom in die tempel toe ontbied. Nadat hy hulle daar in die tempel ’n eed laat sweer het dat hulle nie sal praat nie, het hy ’n ooreenkoms met hulle gesluit. Daarna het hy vir hulle die koning se seun gewys.

5. Hy gee toe vir hulle die volgende bevele: “Luister nou mooi na my reëlings: ’n derde van die soldate wat op die sabbatdag aan diens is, moet by die paleis gaan wagstaan.

6. Nog ’n derde van julle moet by die Surpoort waghou en die orige derde moet agter die paleiswagte gaan waghou. Almal saam is verantwoordelik vir die paleis.

7. Die ander twee afdelings, wat op die sabbatdag verlof het, is verantwoordelik vir die tempel en die koning.

8. Julle is sy lyfwag en julle moet hom gedurig met julle wapens beskerm. As iemand by hom probeer uitkom, moet julle die persoon summier doodmaak.”

9. Die offisiere het presies gedoen wat Jojada, die priester, beveel het. Hulle het albei groepe soldate, dié wat op die sabbat aan diens is en dié wat dan van diens af gaan, bymekaargemaak. Hulle het almal by Jojada byeengekom.

10. Hy het vir hulle spiese en skilde gegee wat nog aan koning Dawid behoort het en wat nog altyd in die tempel van die Here gebêre was.

11. Die soldate het die wapens gevat en ’n halfsirkel om die koning gevorm. Die halfsirkel om hom het van die tempel se suidelike hoek, by die brandofferaltaar verby, tot by die noordelike hoek gestrek. So is die koning baie goed beskerm.

12. Toe alles gereed was, het Jojada die jong koning uitgebring. Hy het ’n kroon op sy kop gesit en die kroningsdokument vir hom gegee. Daarna het hulle olie op sy kop uitgegooi en hande geklap en hard uitgeroep: “Mag die koning lank lewe!” Só het hulle vir Joas koning gemaak.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 11