Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 1:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Ná koning Agab se dood het die Moabiete hulleself onafhanklik van Israel verklaar.

2. Israel se nuwe koning, Ahasia, het op ’n dag deur die traliewerk van ’n bokamer in sy paleis in Samaria geval. Hy het baie seergekry en dadelik boodskappers na die Filistynse stad Ekron gestuur om vir die priesters van hulle god Baäl-Sebub te vra of hy gesond sal word.

3. ’n Engel van die Here het vir Elia, wat van Tisbe af kom, gesê: “Gaan ontmoet die koning se boodskappers. Vra vir hulle: ‘Is daar dan geen God in Israel nie? Hoekom gaan julle Ekron toe om Baäl-Sebub daar te gaan raadpleeg?

4. Hier is ’n boodskap van die Here vir julle koning: Jy sal nie gesond word nie, jy gaan beslis sterf.’” Elia het die boodskap toe so gaan oordra.

5. Die boodskappers het na die koning toe teruggegaan. Hy wou by hulle weet: “Hoekom is julle so gou terug?”

6. Hulle het geantwoord: “’n Man het na ons toe gekom en gesê: ‘Gaan terug na die koning wat julle gestuur het. Hier is ’n boodskap vir hom van die Here af: Is daar dan geen God in Israel nie? Hoekom gaan julle na Ekron toe om Baäl-Sebub daar te raadpleeg? Jy sal nie gesond word nie, jy gaan beslis sterf.’”

7. Die koning vra hulle toe: “Hoe het die man gelyk wat dit alles vir julle gesê het?”

8. Hulle het geantwoord: “Hy het harige klere aangehad wat met ’n velgordel vasgemaak is.” “Dit is Elia van Tisbe!” het die koning uitgeroep.

9. Die koning het ’n offisier met 50 manskappe gestuur om Elia te gaan vang. Hulle het hom gekry waar hy op ’n bergtop sit. Die offisier het vir hom gesê: “Man van God, die koning sê jy moet afkom.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 1