Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 4:9-21 Die Boodskap (DB)

9. Vandag moet julle sterk staan, Filistyne! Wys julle is manne! As julle dit nie doen nie, word julle die Hebreërs se slawe soos hulle júlle slawe is. Wys julle is manne en veg!”

10. Die Filistyne het aangeval en die Israeliete het die geveg verloor. Al die Israeliete het weggehardloop huis toe. Dit was ’n groot slagting: 30 000 voetsoldate van Israel is dood.

11. Die ark van God het in die slag gebly en Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, is ook dood.

12. ’n Man van die Benjaminstam het van die geveg af weggehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop.

13. Eli het op ’n stoel langs die pad gesit en wag vir nuus, want hy was baie bekommerd oor die ark van God. Toe die man met die nuus in die dorp aankom, het al die mense so geskrik dat hulle sommer hard geskree het.

14. Eli het die geskree gehoor en gevra: “Watse geraas is dit?” Die boodskapper het gou na Eli toe gehardloop om vir hom te vertel wat gebeur het.

15. Eli was al 98 jaar oud en hy was stokblind.

16. Die man sê toe vir hom: “Ek kom nou net van die oorlog af. Ek het vandag daar weggehardloop.”Daarop vra Eli vir hom: “Wat het gebeur, my kind?”

17. “Die Israeliete het vir die Filistyne gevlug,” sê die boodskapper. “Daar is baie van ons mense dood; u twee seuns Hofni en Pinehas ook, en die Filistyne het die ark van God gevat.”

18. Toe hy sê wat met die ark gebeur het, het Eli daar by die dorp se ingang reg agteroor van die stoel afgeval. Hy het sy nek gebreek en is dood, want hy was oud en swaar.Eli het Israel 40 jaar lank gelei.

19. Eli se skoondogter, Pinehas se vrou, het ’n baba verwag en die tyd van die geboorte was naby. Toe sy hoor dat die Filistyne die ark van God gevat het, en dat haar skoonpa en haar man dood is, het die geboortepyne skielik begin. Sy het haar knieë opgetrek en gekraam.

20. Die vroue wat haar gehelp het, het gesê: “Moenie moed verloor nie; jy het ’n seuntjie!” Maar sy was besig om dood te gaan; sy het nie geantwoord of met die vroue gepraat nie.

21. Net voor sy dood is, het sy die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Israel se eer is weg.” Sy het bedoel die ark van God wat weg was en die dood van haar skoonpa en haar man.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 4