Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:9-31 Die Boodskap (DB)

9. As hy kans sien om teen my te veg en my wen, sal ons julle slawe wees! As ek vir hóm kans sien en hom wen, moet julle óns slawe wees en vir ons werk!”

10. Hy skree toe ook nog: “Ek spot al die hele dag met die soldaatjies van die Israeliete! Stuur tog nou iemand om teen my te kom veg!”

11. Saul en al die Israeliete het gehoor wat die Filistyn vir hulle skree. Hulle het hulle koud geskrik en was doodbang.

12-16. Die Filistyn het vir baie dae elke môre en elke aand by die spruit gaan staan en skree.Dawid was die seun van ’n man met die naam Isai, wat in Betlehem-Efrata in Juda gebly het. Isai het agt seuns gehad. In Saul se tyd was hy self al te oud om te veg, maar sy drie oudste seuns is saam met Saul oorlog toe. Die oudste van die seuns was Eliab, die tweede een Abinadab en die derde een Samma. Dawid was die jongste. Die drie oudste seuns was die hele tyd by Saul se manskappe, maar Dawid het gereeld van die paleis af Betlehem toe gegaan om sy pa se skape te help oppas.

17. Isai sê toe vir Dawid: “Hier’s ’n halfsak gebraaide koring en tien brode vir jou broers. Vat dit gou vir hulle in die kamp.

18. Dié tien kase moet jy vir die leier van hulle groep gee. Hoor hoe dit met jou broers gaan en bring dan ’n bewys saam dat jy by hulle was.

19. Hulle en Saul en al die manskappe van Israel maak daar by Eikelaagte oorlog teen die Filistyne.”

20. Dawid het die môre vroeg opgestaan en die skape by ’n wagter gelos. Hy het die goed gevat en gegaan soos sy pa vir hom gesê het. Hy het by die kamp gekom net toe die manskappe hulle strydkreet skree en op hulle plekke gaan staan vir die geveg,

21. want die Israeliete en die Filistyne het hulle manskappe laat regstaan om mekaar aan te val.

22. Dawid het die goed wat hy by hom gehad het, by die man gelos wat die bagasie oppas. Hy het na die plek gehardloop waar die manne vir die geveg reggestaan het. Toe hy daar kom, het hy sy broers gevra hoe dit met hulle gaan.

23. Terwyl hy nog met hulle praat, kom die voorvegter van die Filistyne met die naam Goliat, die man uit Gat, vorentoe en skree weer dieselfde woorde sodat Dawid dit hoor.

24. Toe die Israeliete die man sien, was hulle almal doodbang en het teruggestaan.

25. Daar is vir die Israeliete gesê: “Sien julle hoe kom hierdie man elke keer vorentoe om met die Israeliete te spot? Die koning sal die man wat hom doodmaak, skatryk maak en sy dogter vir hom gee. Sy familie sal ook nie belasting hoef te betaal nie.”

26. Dawid sê toe vir die manne wat daar om hom staan: “Wat sal gebeur met die man wat daardie Filistyn doodmaak en hierdie skande vir Israel stopsit? Wie dink daardie heiden van ’n Filistyn miskien is hy dat hy so met die manskappe van die lewende God spot?”

27. Die manne het vir Dawid dieselfde antwoord gegee: “Dit is wat gedoen sal word met die man wat die Filistyn doodmaak.”

28. Dawid se oudste broer, Eliab, het gehoor dat Dawid met die manne praat. Hy het hom bloedig vererg vir Dawid: “Wat het jy hier kom soek? En by wie het jy daardie klompie skape in die oop veld gelos? Ek weet hoe voor op die wa jy is en watter plannetjies jy altyd maak: jy het maar net hierheen gekom om die geveg te sien.”

29. “Wat het ek nou verkeerd gedoen?” vra Dawid. “Hierdie is tog ’n ernstige saak.”

30. Hy draai toe weg van Eliab af na van die ander manne en vra vir hulle ook dieselfde vraag. Hulle gee hom toe dieselfde antwoord.

31. Die manskappe het gehoor wat Dawid sê en dit vir Saul gaan vertel. Saul laat hom toe haal.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17