Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:17-29 Die Boodskap (DB)

17. Adonia het keelskoongemaak en toe gevra: “Sal u nie asseblief met koning Salomo praat en hom vra of ek met Abisag, die vrou uit Sunem, mag trou nie? As u hom namens my vra, weet ek hy sal luister.”

18. “Goed,” het Batseba gesê, “ek sal met die koning oor jou versoek gesels.”

19. Batseba het met die koning oor Adonia se versoek gaan praat. Toe sy die vertrek binnekom, het Salomo opgestaan en in eerbied voor sy ma gebuig. Hy het weer op sy troon gaan sit en gesê hulle moet vir sy ma ’n stoel bring. Batseba het aan die regterkant van Salomo gaan sit.

20. Na ’n ruk het Batseba vir Salomo gesê: “Ek kom met ’n klein versoekie en ek hoop jy sal dit nie weier nie.” “Wat is dit, Ma?” het Salomo gesê. “Ek help mos graag.”

21. Batseba sê toe: “Kan jou broer Adonia tog nie maar met Abisag trou nie?”

22. “Wat?” het Salomo gesê. “Hoe kan Ma dit vra? Adonia vra vir Abisag, maar eintlik wil hy my koningskap hê. Hy is my ouer broer. En Abjatar die priester en Joab, die seun van Seruja, is natuurlik kop in een mus met hom. Nee, jammer, Ma, maar Adonia kry nie vir Abisag nie!”

23. Salomo was woedend. Hy sê toe: “Mag die Here my straf as ek Adonia skotvry laat wegkom.

24. Die Here het my koningskap voorspoedig gemaak en almal is aan my getrou. Lank gelede al het die Here my pa beloof dat ek en my kinders oor Israel sal regeer. Daarom sal ek vandag nog sorg dat Adonia vir sy opstand teen die koning boet.”

25. Salomo het toe sy polisiehoof, Benaja, opdrag gegee om Adonia te arresteer en hom oor sy ontrouheid tereg te stel.

26. Salomo het vir Abjatar laat kom en vir hom gesê: “Eintlik verdien jy die dood, maar ek sal jou toelaat om na jou tuisdorp Anatot terug te gaan. Ek spaar jou omdat jy as priester naby aan die Here was toe jy die ark gedra het en omdat jy my pa in al sy swaarkry bygestaan het.”

27. Salomo het Abjatar weggestuur. Hy was nie meer een van die Here se priesters in Jerusalem nie. So het die woorde van die Here in verband met die ondergang van Eli en sy kinders se priesterskap in Silo waar geword.

28. Toe Joab hoor wat gebeur het, het hy baie bang geword, want hy het Adonia ondersteun. Destyds was hy aan Dawid se kant teen Absalom, maar nou het hy vir Adonia gekies. In sy angs het Joab na die tent waar die Here teenwoordig was, gevlug en krampagtig aan die hoeke van die altaar vasgeklou.

29. Toe Salomo hoor Joab het na die tent gevlug en hou wanhopig aan die altaar se hoeke in die tent vas, het hy iemand na Joab toe gestuur. Hy moes uitvind waarom Joab na die tent toe gevlug het. Joab het gesê dat hy uit vrees vir Salomo na die Here gevlug het. Toe hy dit hoor, het Salomo Benaja ontbied. “Gaan maak hom dood,” het Salomo vir Benaja gesê.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2