Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 11:20-30 Die Boodskap (DB)

20. Sy het vir Hadad ’n seun gegee wat hy Genubat genoem het. Genubat is deur die koningin grootgemaak en het net soos die ander seuns van die koning geleef.

21. Toe Hadad hoor dat Dawid en Joab albei dood is, het hy vir die koning gesê: “Laat my asseblief na my land teruggaan.”

22. “Hoekom wil jy teruggaan?” het die koning verbaas gevra. “Het ek dan iets verkeerds gedoen?” “Nee,” het Hadad gesê, “laat my asseblief net gaan.” Hadad is daar weg. Hy het toe die koning van Edom geword. Hadad het Israel gehaat.

23. Reson seun van Eljada het hom ook teen Salomo verset. Reson het vir koning Hadad-Eser van Soba gewerk, maar op ’n dag het hy in opstand gekom en is van die koning af weg.

24. Dit het in die tyd gebeur toe Dawid vir Hadad-Eser verslaan en sy Siriese bondgenote vernietig het. Reson en sy manne is toe vinnig daar weg en het in Damaskus gaan bly. Daar het hulle hom koning van Sirië gemaak.

25. Reson het Israel gehaat en was ’n geswore vyand van Salomo.

26. Nog iemand wat teen Salomo gerebelleer het, was Jerobeam. Hy was die seun van Nebat, ’n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, ’n weduwee.

27. Salomo het die oostekant van Jerusalem met grond opgevul en was besig om die stadsmuur te herstel.

28. Jerobeam het ook daar gewerk. Hy was jonk, ambisieus en hardwerkend. Salomo het dit raakgesien en Jerobeam oor die dwangarbeiders aangestel. Hy moes die mense van Manasse en Efraim (dit is die Josefstam) dwing om vir Salomo te werk.

29. Op ’n dag was Jerobeam uit Jerusalem na die noorde op pad toe hy skielik die profeet Agija van Silo raakloop. Hulle het lank alleen in die oop stuk veld gestaan en gesels.

30. Agija het sy nuwe mantel uitgetrek en dit in twaalf stukke begin skeur.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 11