Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 11:5-22 Die Boodskap (DB)

5. Tot vandag toe is hierdie woorde waar. Daar is nou nog ’n klein groepie Israeliete wat in God glo. God self het hulle uitgekies om in Hom te glo. Hy het dit nie gedoen omdat hierdie mense so goed leef nie, maar omdat Hy so ’n genadige God is.

6. Hy red mense sonder dat hulle dit verdien. As mense hulle redding moes verdien, sou God mos nie meer ’n genadige God wees nie.

7. Wat het dan met die res van Israel skeefgeloop? Wel, hulle het op die verkeerde manier by God probeer uitkom. Slegs die klein groepie wat deur God uitgekies is, het bly glo. Al die ander se harte is kliphard gemaak.

8. Dit gaan met hulle presies soos die Bybel sê:“God het hierdie spul oorgegee aan ’n diep slaap. Daarom sien hulle glad nie meer nie, en hulle hoor ook nie. Dit gaan tot vandag toe nog so.”

9. Dawid sê dieselfde in een van die psalms:“Mag hulle feesmaaltye hulle dodelik siek maak. Mag hulle in ’n lokval gelei word en in groot moeilikheid beland.

10. Mag hulle blind word sodat hulle niks kan sien nie. Mag hulle vir altyd krom loop van die pyn.”

11. Is Israel se kans by God vir altyd verby? Beteken hulle val die einde van God se pad met hulle? Nee, natuurlik nie. Ironies genoeg het Israel se val vir ander volke die kans gebied om God se redding te smaak. Dit moet Israel sommer groen van jaloesie maak. As hulle sien hoe mense uit ander volke nou God se goedheid geniet, moet hulle hulle begin afvra of hulle nie die ware lewe misloop nie.

12. As Israel se ongeloof bygedra het tot ’n wêreldwye bekering van mense uit ander volke, en as hulle val die res van die wêreld verryk het, dink net wat dit vir die wêreld sal beteken as al die Israeliete tot bekering moet kom.

13. Maar wag, ek wil nou spesifiek met diegene onder julle praat wat nie Israeliete is nie. Ek is immers deur God aangestel as ’n apostel om die goeie nuus aan mense buite Israel te vertel. En wat ’n wonderlike bediening is dit nie!

14. Ek doen dit met groot oorgawe in die hoop dat ek dalk my eie volk, die Jode, jaloers kan maak. Miskien kom ’n paar van hulle tot bekering as hulle sien hoe God se genade mense wat nie aan Israel behoort nie se lewe verander.

15. As God se verwerping van Israel daartoe gelei het dat die res van die wêreld met Hom versoen geraak het, dink net wat hulle terugkeer na God toe sal beteken: niks minder nie as die ewige lewe self!

16. Weet julle, as hierdie eerste offers vir God aanvaarbaar is, moet die res van die offer ook mos vir Hom aanvaarbaar wees. En as die wortel van die boom aan God gewy is, is die res van die boom ook mos Syne. Israel is soos die takke van ’n olyfboom wat stewig in die grond geanker is.

17. Maar party van hierdie olyfboom se takke is intussen afgebreek. Dit is al daardie Israeliete wat nie na God wou luister nie. In hulle plek is jy wat nie ’n Israeliet is nie soos ’n wildeolyf tussen die takke van die olyfboom ingeënt. Op dié manier kon jy deel in die wortel se lewenskrag. God se genade en sy liefde het ook na jou toe gevloei.

18. Jy moet egter nie nou dink dat jy beter as die ander takke is nie. Dis regtig nie jý wat die boom met wortel en al dra nie. Nee, dit is die wortel, God se genade wat van Abraham se tyd af deur die olyfboom vloei, wat jou ook dra. As dit nie daarvoor was nie, het jy ook nie geglo nie.

19. Miskien sal jy sê: “’n Klompie takke is afgebreek om vir my plek te maak.” Goed.

20. Jy’s reg. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie, en jy is in die olyfboom ingeplant omdat jy glo. Maar dit moet jou juis nederig maak. Jy moet groot eerbied vir God hê.

21. Onthou: God het nie gehuiwer om daardie ongelowige Israeliete uit te kap nie. Dink jy Hy sal anders met jou maak as jy nie na Hom luister nie?

22. God is streng. Maar Hy is ook vol liefde. Hy tree streng op teenoor dooie lote, teenoor mense wat nie na Hom luister nie. Maar Hy tree vol liefde op teenoor lewende lote, teenoor mense soos jy wat elke dag uit sy goedheid leef. Jy mag egter nie God se goedheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Dan kap Hy jou op ’n dag ook uit.

Lees volledige hoofstuk Romeine 11