hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 11 Die Boodskap (DB)

God skryf Israel nie heeltemal af nie

1. Het God Israel afgeskryf? Nee, glad nie. Ek self is die bewys dat dit nie waar is nie. Ek is immers ook ’n Israeliet, ’n lid van Abraham se nageslag, uit die stam van Benjamin.

2. Maar die belangrikste bewys dat God nie sy rug vir Israel gedraai het nie, is Hy self. Hy het Hom lank gelede aan Israel bekendgemaak. En Hy is nog heeltyd by hulle.Onthou julle die keer toe Elia oor hierdie einste Israeliete by God gaan kla het?

3. “Here, hulle het u profete doodgemaak. Hulle het u altare onder hulle voete vertrap. Ek het alleen oorgebly. Nou is hulle ook agter my bloed aan, hulle wil my doodmaak.”

4. Julle onthou nog wat God se antwoord aan Elia was: “Ek het 7 000 mans vir My oorgehou. Hulle dien My. Hulle sal nie daardie heidense afgod, Baäl, aanbid nie.”

5. Tot vandag toe is hierdie woorde waar. Daar is nou nog ’n klein groepie Israeliete wat in God glo. God self het hulle uitgekies om in Hom te glo. Hy het dit nie gedoen omdat hierdie mense so goed leef nie, maar omdat Hy so ’n genadige God is.

6. Hy red mense sonder dat hulle dit verdien. As mense hulle redding moes verdien, sou God mos nie meer ’n genadige God wees nie.

7. Wat het dan met die res van Israel skeefgeloop? Wel, hulle het op die verkeerde manier by God probeer uitkom. Slegs die klein groepie wat deur God uitgekies is, het bly glo. Al die ander se harte is kliphard gemaak.

8. Dit gaan met hulle presies soos die Bybel sê:“God het hierdie spul oorgegee aan ’n diep slaap. Daarom sien hulle glad nie meer nie, en hulle hoor ook nie. Dit gaan tot vandag toe nog so.”

9. Dawid sê dieselfde in een van die psalms:“Mag hulle feesmaaltye hulle dodelik siek maak. Mag hulle in ’n lokval gelei word en in groot moeilikheid beland.

10. Mag hulle blind word sodat hulle niks kan sien nie. Mag hulle vir altyd krom loop van die pyn.”

Daar is plek vir Israel en vir

11. Is Israel se kans by God vir altyd verby? Beteken hulle val die einde van God se pad met hulle? Nee, natuurlik nie. Ironies genoeg het Israel se val vir ander volke die kans gebied om God se redding te smaak. Dit moet Israel sommer groen van jaloesie maak. As hulle sien hoe mense uit ander volke nou God se goedheid geniet, moet hulle hulle begin afvra of hulle nie die ware lewe misloop nie.

12. As Israel se ongeloof bygedra het tot ’n wêreldwye bekering van mense uit ander volke, en as hulle val die res van die wêreld verryk het, dink net wat dit vir die wêreld sal beteken as al die Israeliete tot bekering moet kom.

13. Maar wag, ek wil nou spesifiek met diegene onder julle praat wat nie Israeliete is nie. Ek is immers deur God aangestel as ’n apostel om die goeie nuus aan mense buite Israel te vertel. En wat ’n wonderlike bediening is dit nie!

14. Ek doen dit met groot oorgawe in die hoop dat ek dalk my eie volk, die Jode, jaloers kan maak. Miskien kom ’n paar van hulle tot bekering as hulle sien hoe God se genade mense wat nie aan Israel behoort nie se lewe verander.

15. As God se verwerping van Israel daartoe gelei het dat die res van die wêreld met Hom versoen geraak het, dink net wat hulle terugkeer na God toe sal beteken: niks minder nie as die ewige lewe self!

16. Weet julle, as hierdie eerste offers vir God aanvaarbaar is, moet die res van die offer ook mos vir Hom aanvaarbaar wees. En as die wortel van die boom aan God gewy is, is die res van die boom ook mos Syne. Israel is soos die takke van ’n olyfboom wat stewig in die grond geanker is.

17. Maar party van hierdie olyfboom se takke is intussen afgebreek. Dit is al daardie Israeliete wat nie na God wou luister nie. In hulle plek is jy wat nie ’n Israeliet is nie soos ’n wildeolyf tussen die takke van die olyfboom ingeënt. Op dié manier kon jy deel in die wortel se lewenskrag. God se genade en sy liefde het ook na jou toe gevloei.

18. Jy moet egter nie nou dink dat jy beter as die ander takke is nie. Dis regtig nie jý wat die boom met wortel en al dra nie. Nee, dit is die wortel, God se genade wat van Abraham se tyd af deur die olyfboom vloei, wat jou ook dra. As dit nie daarvoor was nie, het jy ook nie geglo nie.

19. Miskien sal jy sê: “’n Klompie takke is afgebreek om vir my plek te maak.” Goed.

20. Jy’s reg. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie, en jy is in die olyfboom ingeplant omdat jy glo. Maar dit moet jou juis nederig maak. Jy moet groot eerbied vir God hê.

21. Onthou: God het nie gehuiwer om daardie ongelowige Israeliete uit te kap nie. Dink jy Hy sal anders met jou maak as jy nie na Hom luister nie?

22. God is streng. Maar Hy is ook vol liefde. Hy tree streng op teenoor dooie lote, teenoor mense wat nie na Hom luister nie. Maar Hy tree vol liefde op teenoor lewende lote, teenoor mense soos jy wat elke dag uit sy goedheid leef. Jy mag egter nie God se goedheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Dan kap Hy jou op ’n dag ook uit.

23. In God se olyfboom is daar nie plek vir dooie lote wat nie doen wat Hy sê nie.

24. Daar is tog goeie nuus vir die dooie lote, vir Israeliete wat nie in Christus glo nie. As hulle tot bekering kom, sal hulle dadelik weer in die olyfboom ingeënt word. God het die krag om dit te doen. Hy alleen kan dooie lote weer laat leef. Immers, as God vir jou wat ’n wildeolyftak is, so suksesvol op sy olyfboom kon inent, is dit mos geen probleem vir Hom om daardie olyftakke wat afgebreek is ook weer op die olyfboom in te ent nie.

Daar is nog hoop vir Israel

25. My broers en susters, ek wil hê dat julle goed moet begryp hoe God se plan werk. As julle verkeerd oor Israel oordeel, dink julle kort voor lank dat julle belangriker as hulle is. Daarom wil ek nou ’n paar van God se geheime met julle deel. Wel, julle weet dat baie Israeliete se harte kliphard is, want hulle weier om in God te glo.

26. Maar dit sal ophou wanneer al God se uitverkorenes uit ander volke tot bekering gekom het. Op hierdie manier sal die ganse Israel, alle ware Israeliete, na God toe terugkeer. Dit is soos daar geskryf staan:“Die Redder kom van die berg Sion af. Hy sal Jakob se goddeloosheid verwyder.

27. Dit is my ooreenkoms met hulle: Ek sal hulle sondes vergewe.”

28. Baie Israeliete is vyande van die evangelie. Dit het natuurlik aan julle wat nie Jode is nie die kans gebied om in Jesus te glo. Maar aan die ander kant is hulle nog steeds God se vriende omdat Hy hulle uitgekies het. God bly immers getrou aan sy beloftes aan hulle voorvaders.

29. Hy gaan nooit terug op sy woord nie.

30. Vroeër was julle ook ongehoorsaam aan God. Nou glo julle egter omdat God julle jammer gekry het.

31. Dit het gebeur omdat die Jode die deur van God se genade toegeklap het. In reaksie daarop het God toe aan julle die kans gegee om in Hom te glo. Nou staan die Jode ook voor ’n toe deur. Omdat God julle jammer gekry het, staan hulle nou buite. Dit het egter gebeur sodat hulle ook nou God se ontferming kan beleef.

32. God het ons almal laat voel hoe verskriklik dit is om ver van Hom af te leef. Ons almal is aan die mag van die sonde oorgegee sodat ons kan ervaar hoe wonderlik dit is wanneer God sy genade aan ons almal bewys.

’n Loflied oor God se grootheid

33. Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie kan dit waag om God se oordeel te bevraagteken? Wie is in staat om sy optrede te verklaar?

34. Wie ken God se planne? Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen?

35. Is daar iemand wat vir God ’n guns bewys het, sodat Hy iets aan hom moet terugdoen?

36. Van God af kom alles wat bestaan. Hy hou alles in stand. Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd. Ja en amen!