Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 9:3-15 Die Boodskap (DB)

3. Die rookmassa was so dik dat die lug heeltemal swart geword het, sodat ’n mens nie eens die son kon sien nie. Uit hierdie wolke rook kruip daar toe sprinkane uit, die wêreld vol! Aan die sprinkane is buitengewone mag gegee. Hulle was gevaarlik soos skerpioene.

4. Daar is mooi vir hulle gesê wat hulle moes doen. Die plante, bome en gras moes hulle met rus laat, maar die mense moes hulle tref, hoewel nie almal nie. Daardie mense wat die merk van God op hulle voorkop gehad het, was veilig, maar die mense sonder daardie merk moes deurloop.

5. Die sprinkane moes nie die mense doodmaak nie, maar net vyf maande lank seermaak. Dit sal wees soos skerpioene wat hulle die hele tyd steek en dít gaan so seer wees dat die mense allerhande planne sal maak om hulleself dood te maak.

6. Maar hulle planne sal nie uitwerk nie. Hoe hard hulle ook al probeer, die dood sal soos wind deur hulle grypende vingers glip.

7. Die sprinkane het soos perde gelyk wat spesiaal vir oorlog reggemaak is. Hulle gesigte het soos dié van mense gelyk. Op hulle koppe was iets wat gelyk het soos die goue kroon wat mense kry wat ’n kompetisie gewen het.

8. Onder die kroon het ’n pragtige haardos uitgehang, soos ’n vrou s’n. Hulle tande het soos leeus s’n gelyk.

9. Ysterplate het hulle bors beskerm. Hulle het ’n groot lawaai gemaak, net soos die gedreun van ’n massa perde en waens wat in ’n oorlog instorm.

10. Hulle sterte het nes dié van skerpioene gelyk, en kón dit steek! Vyf maande aanmekaar moes die mense onder daardie sterte deurloop. Glo my, dit was seer!

11. Hulle het ’n leier gehad, die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam was Abaddon - dit beteken: die een wat alles verwoes.

12. Hoe verskriklik is dit nie, nè? Wag maar, daar is nog twee sulke skrikwekkende dinge op pad.

13. Toe weerklink die sesde engel se trompet. Ek hoor toe ’n stem uit die rigting van die vier horings op die vier hoeke van die goue altaar. Die altaar het voor God gestaan.

14. Die stem praat toe met hierdie sesde engel: “Laat daardie vier engele losbreek wat net heeltyd by die groot Eufraatrivier moes bly.”

15. Toe breek die vier engele los, want hulle was reg daarvoor. Hiervoor het hulle gewag. Nou maar waarvoor het hulle gewag? Om ’n derde van die mense van kant te maak.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 9