Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 11:1-9 Die Boodskap (DB)

1. God gee toe vir my ’n liniaal. “Staan op. Gaan meet die tempel van God, altaar en al. Tel die mense wat besig is om God te aanbid. Skryf dit neer sodat daar presies onthou sal word hoe dit gelyk het.

2. Moenie die plein buite die tempel meet nie. Los dit maar. Dit gaan vir al die ongelowiges wat God nie dien nie, gegee word. Niemand sal dit onthou nie. Hulle gaan hier in die heilige stad instroom en alles vertrap. Dit gaan darem net ’n beperkte tyd van 42 maande wees.

3. “Intussen sal Ek twee mense stuur wat die waarheid oor My praat. Hulle sal eenvoudig aantrek soos die profete van ouds wat die volk op die regte pad wou hou. Hulle sal 1 260 dae lank (42 maande) vir die mense van My vertel. Dit is darem nie te lank nie.”

4. Hulle kan vergelyk word met twee olyfbome en twee kandelare. Die olyfbome gee die olie sodat die kandelare altyd kan brand: dit laat ’n mens dink aan hoe die Gees werk. Hulle staan voor God wat oor die hele aarde heers.

5. As iemand hulle probeer seermaak of benadeel, kom daar vuur uit hulle monde uit. Die vuur verskroei natuurlik al wat vyand is, net soos in Elia se tyd. So word hulle vyande vernietig.

6. Hulle kan ook keer dat daar ’n druppel reën val solank hulle die mense van God vertel. Soos Moses van ouds kan hulle die water oral ondrinkbaar maak. Hulle verander dit in bloed. Hulle kan ook - as hulle natuurlik wil - die aarde en die mense met allerhande plae tref.

7. Hulle sal van God preek tot God besluit dit is genoeg. Dan sal ’n oorlog teen hulle losbrand. Die bose dier sal uit die bodemlose onderaardse diepte uitkom en woes teen hulle veg en wen. Hy sal hulle doodmaak

8. en die lyke net daar in die strate van die groot stad Jerusalem laat lê. Niemand sal dit eens begrawe nie. Dis mos ’n skande! Hierdie stad is net so boos soos Sodom van ouds. Soos mense destyds in Egipte onderdruk en sleg behandel is, doen hulle dit nou hier in Jerusalem ook. Ja-nee, dit is mos die einste stad waarin hulle Here ook aan die kruis doodgemaak is.

9. Mense van oral af sal die lyke daar in die straat bekyk. Hulle wou die lyke mos nie begrawe soos dit hoort nie. Dit sal drie en ’n halwe dae so aanhou.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 11