Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 5:4-16 Die Boodskap (DB)

4. “Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog.

5. “Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie. God sal sorg dat elke stukkie grond in sy nuwe wêreld aan hulle behoort.

6. “Gelukkig is almal wat met alles in hulle daarna streef om te doen wat God vra. Hy sal binnekort hulle verlange na Hom vir altyd wegvat.

7. “Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee. God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel Hy vir hulle omgee.

8. “Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien.

9. “Gelukkig is almal wat vrede maak tussen mense wat in vyandskap met mekaar leef. God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is.

10. “Gelukkig is almal wat deur ander mense beledig en vervolg word omdat hulle doen wat God vra. Hy sal sorg dat daar vir hulle plek is in sy nuwe wêreld.

11. “Gelukkig is julle wanneer ander mense julle te lyf gaan, julle slegsê en ’n klomp leuens oor julle vertel omdat julle my volgelinge is.

12. Wanneer dit gebeur, moet julle sommer baie bly wees. Spring op en dans rond van vreugde! Want dan wag daar ’n baie groot beloning op julle in die hemel. “Wanneer hierdie dinge met julle gebeur, moet julle nie moed opgee nie. Onthou: God se boodskappers het nog altyd deurgeloop onder ander mense se haat. Lank voor julle tyd is die profete al vervolg.”

13. “Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie. Dan kan Hy julle net sowel op die ashoop weggooi.

14. “Julle is ’n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo.“Julle geloof moet net so sigbaar wees soos ’n stad wat hoog bo-op ’n berg gebou is.

15. “Geen mens sit ’n lig aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Nee, ’n lig word in die middel van ’n vertrek neergesit sodat almal kan sien wat om hulle aangaan. Dit is presies wat julle ook moet doen. Moenie iewers in die donker gaan wegkruip nie.

16. Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 5