Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 3:1-8 Die Boodskap (DB)

1. In daardie tyd het Johannes die Doper ook op die toneel verskyn. Hy het in die woestyn van Judea gepreek.

2. Johannes het vir die mense wat na hom kom luister het, gesê: “Julle lewe moet radikaal verander, want God se nuwe wêreld is op hande.”

3. Die profeet Jesaja het ook al na Johannes verwys. Hy skryf oor hom:“Daar is ’n man in die woestyn wat hard uitroep. Hy sê: ‘Vat al die hindernisse uit die Here se pad uit. Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is!’”

4. Johannes se klere was van kameelhare gemaak. Hy het dit met ’n leerbelt om sy lyf vasgemaak. Sy kos was sprinkane en heuning. Dié het hy in die veld gekry.Kort voor lank was Johannes die Doper groot nuus. Mense het van oraloor na hom toe gestroom.

5. Van heinde en ver het hulle na hom toe gekom: uit Jerusalem, oral uit Judea en uit die omgewing van die Jordaanvallei.

6. Almal van hulle wat in die openbaar erken het dat hulle nie doen wat God van hulle vra nie, is daar by die Jordaan deur hom gedoop.

7. Op ’n dag het Johannes gesien dat ’n klomp Joodse godsdienstige leiers ook na hom toe kom om gedoop te word. Hy was baie omgekrap daaroor. “Julle skynheiliges! Julle seil soos ’n klomp slinkse slange hier na die doopwater toe. Weet julle nie dat God se oordeel baie naby is nie? Wie het vir julle gesê julle kan dit vryspring as ek ’n klomp water oor julle uitgooi?

8. Kry eerder julle lewe in orde en doen wat God sê. Wys dat julle berou het oor al julle sondes.

Lees volledige hoofstuk Matteus 3