Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:27-46 Die Boodskap (DB)

27. Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie daarvoor en gee dit vir sy dissipels om te drink. “Drink dit, almal van julle.

28. Dit is my bloed wat gaan vloei. Dit beteken dat baie mense se sondes as gevolg daarvan vergewe sal word. Maar dit beteken ook dat baie mense in ’n nuwe verhouding tot God sal kan staan.

29. “Luister: Ek sal eers weer so saam met julle wyn sit en drink wanneer ons die nuwe, hemelse wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel drink.”

30. Toe die note wegsterf van die lofsang wat hulle gesing het, is hulle saam Olyfberg toe.

31. Jesus het verder gepraat: “Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai en maak of julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos:‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’

32. “Maar Ek sal uit die dood opgewek word. Dan sal Ek Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.”

33. Petrus kon dit nie meer hou nie: “Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.”

34. “Petrus,” sê Jesus, “hoor wat Ek vir jou sê: vannag nog, voor die haan moet kraai, sal jy drie maal ontken dat jy ooit iets met My te doen gehad het.”

35. “Nooit nie!” ontken Petrus heftig. “Ek sal U nooit in die steek laat nie, al maak hulle my dood!” Al die ander dissipels het presies dieselfde gesê.

36. Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit was ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag julle hier. Ek gaan bid.”

37. Hy het net Petrus en Sebedeus se twee seuns saam met Hom gevat.

38. Jesus het bedruk gevoel en sê toe vir die drie saam met Hom: “Ek voel doodsbenoud. Wag julle hier. Kyk dat niemand ons hier verras nie.”

39. Hy het ’n paar treë verder gaan kniel. Met sy gesig tot teen die grond gebuig, begin Hy bid: “My Vader, is daar enige kans dat Ek die pad wat vir My voorlê nie hoef te loop nie? Is daar ’n uitweg? Maar Ek probeer nie allerhande planne maak nie. Maak U die planne, asseblief! Doen wat U wil.”

40. Jesus se dissipels het egter aan die slaap geraak. Hy maak Petrus toe wakker: “Wat gaan aan? Het jy dit nie eens in jou om ’n klein rukkie saam met My wakker te bly nie?

41. Vra God om julle te help om nie verkeerde dinge te wil doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie, nie waar nie? Wees daarom altyd op en wakker.”

42. ’n Tweede maal het Jesus gaan bid: “My Vader, as daar nie vir My ’n uitweg is nie, laat dan gebeur wat moet gebeur!”

43. Weer kry Jesus die drie vas aan die slaap. Hulle kon eenvoudig nie hulle oë oophou nie.

44. Hierdie keer het Hy hulle gelos. ’n Derde keer het Jesus gaan kniel en dieselfde gebed gebid.

45. Toe Hy klaar was, maak Hy die drie weer wakker: “Julle slaap lekker, nè? So asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus! Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul ongehoorsame Jode gaan My netnou kom vang.

46. Kom, laat ons gaan. My verraaier is op pad.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 26