Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 22:15-27 Die Boodskap (DB)

15. Die Joodse godsdienstige leiers het daarna koppe bymekaar gaan sit. Hulle wou so graag hê dat Jesus iets moes sê wat Hom in die moeilikheid sou bring. Hulle het saam beplan hoe hulle dit sou regkry. Hulle het besluit om Hom met ’n moeilike politieke saak in ’n strik te laat trap.

16. Daarom het hulle ondersteuners van Herodes, die koning van die gebied, saamgevat toe hulle met Jesus gaan praat het. Toe hulle by Jesus kom, stel hulle hulle plan in werking. Hulle het met die heuningkwas begin: “Meneer, jy is ’n goeie onderwyser. Ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Ons sien jy soek nie gewildheid nie, maar net die waarheid. Wat mense oor jou sê of dink, pla jou nie.”

17. Daarna kom hulle met die angel: “Maar sê nou vir ons, dink jy dit is reg dat ons so baie belasting aan die keiser moet betaal?” Die keiser was immers ’n koning van ’n vreemde land wat hulle onderdruk het.

18. Jesus was te uitgeslape vir hulle. Hy het deur hulle slinkse plan gesien. Daarom sê Hy vir hulle: “Julle weet so goed soos Ek dat julle My in die moeilikheid wil bring. Maar nogtans gaan Ek julle antwoord.

19. Het iemand miskien vir My ’n geldstuk waarmee ons belasting moet betaal, asseblief?” Daar was in daardie tyd baie verskillende soorte geldstukke. Vinnig gee iemand vir Hom een.

20. Hy sê toe vir hulle: “Kyk mooi na hierdie geld. Wie se beeld is hierop en wie se naam staan hier?”

21. “Die keiser s’n,” antwoord hulle vinnig.“As die geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. “Maar onthou, julle is volgens God se ‘beeld’ gemaak. Julle behoort aan Hom en daarom moet julle seker maak dat julle julleself aan God gee.”

22. Hierdie antwoord het die opposisie se plan heeltemal deurmekaargekrap. Hulle het nie geweet wat om te sê nie. So stil-stil is hulle maar daar weg.

23. Dieselfde dag nog het die Sadduseërs Jesus ook probeer vastrek. Hulle was die Joodse party wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. Hulle het veral uit die ryk en belangrike families in Jerusalem gekom.

24. “Jy is mos iemand wat ander leer,” begin hulle. “Laat ons jou net herinner aan Moses se woorde: ‘As ’n getroude man sonder kinders sterf, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie.’

25. Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kon hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede seun trou.

26. Hy is egter ook dood sonder dat daar ’n kind is. So gaan dit met al sewe broers.

27. Uiteindelik is die vrou sonder ’n kind dood.

Lees volledige hoofstuk Matteus 22