Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 10:9-17 Die Boodskap (DB)

9. Jesus het verder met hulle gepraat en vertel hoe hulle te werk moes gaan:“Julle hoef nie ’n klomp geld saam te vat nie.

10. Dit is ook nie nodig om groot tasse met baie klere te pak of allerhande spesiale reëlings vir die reis te tref nie. Immers, iemand wat werk, word tog betaal, al kry hy net kos om te eet vir al sy moeite.

11. “Sê nou maar julle kom in ’n stad of dorpie aan, kyk dan of daar iemand is wat vir julle blyplek aanbied en by wie julle graag sal wil bly. Moenie rondval nie; bly daar totdat julle weer na die volgende dorpie toe moet gaan. “So moet julle dit doen:

12. As julle in ’n huis ingaan, groet die mense vriendelik. Sê vir hulle God sal vir hulle goed wees. Hou dan hulle reaksie fyn dop.

13. As hulle julle met dieselfde vriendelikheid teruggroet, weet julle die saak is reg. Laat die vrede van God oor die mense van daardie huis kom. Maar as hulle julle nie goed ontvang nie, moenie verder sukkel nie. Loop daar weg, julle met die vrede wat julle bring en alles daarmee saam.

14. “Sê nou iemand verontagsaam julle as julle na hom toe gaan, sê nou hy wil nie luister as julle met hom praat nie, wat dan? Wel, moenie julleself probeer opdring of julle tyd mors nie. Los hom net daar. En as die mense van ’n hele dorp so ’n verkeerde houding het, los hulle ook net daar. Skud die kop, trek julle skouers op en gaan verder.

15. Troos julle hieraan: wanneer God die dag kom om almal te oordeel, gaan hierdie mense besef dat hulle verkeerd was. Hulle gaan baie spyt wees, maar spyt kom altyd te laat. Saam met die ou stede soos Sodom en Gomorra wat so bekend was vir hulle sonde, gaan hierdie mense lelik onder God se oordeel deurloop.

16. “Moenie dink alles sal altyd net goed gaan nie. Die gevare en probleme is groot en baie. Dit is byna so gevaarlik soos ’n herder wat sy skape deur ’n bos lei waar dit wemel van die luiperds en leeus.

17. Daarom moet julle ingesteldheid reg wees. Julle moet presies weet wat julle wil doen. Probeer ook om mense nie aanstoot te gee of kwaad te maak nie.”“Julle moet ook weet wat op julle wag. Die mense gaan vir julle baie probleme gee. Net omdat julle aan my kant is, sal hulle julle sommer in die tronk wil gooi. Hulle sal julle op die lelikste moontlike maniere voor almal slegsê. En dit is nie al nie. Hulle sal julle by die polisie gaan aankla asof julle boewe is.

Lees volledige hoofstuk Matteus 10