Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 10:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Daarna roep Jesus sy twaalf dissipels eenkant toe.

2. Hulle was: Simon (Petrus was sy ander naam); Andreas (hy was Simon se broer); die twee broers

3. Jakobus en Johannes (Sebedeus was hulle pa); dan was daar ook Filippus, Bartolomeus en Tomas; Matteus (die een wat Jesus by die tolhuis ontmoet het) en Jakobus (Alfeus was sy pa); Taddeus;

4. Simon (van Kana af); Judas Iskariot (hy het later teen Jesus gedraai en Hom verraai).

5. Dit was die eerste groep mense wat in die ryp oeslande moes gaan werk. Jesus het vir hulle die nodige toerusting gegee, naamlik die mag om bose geeste te verjaag wat mense se lewe deurmekaarkrap, om siekes gesond te maak, en om mense te help wat op die een of ander manier deur die lewe gekneus is. Jesus het ook aan hulle spesifieke opdragte gegee: “Gaan eers na die Israeliete toe. Moenie allerhande afdraaipaadjies vat en eers onder die nie-Jode gaan werk nie. Los vir eers maar ook die Samaritane.

6. “Die Israeliete is julle hoofdoel. Gaan samel eers daar die oes in. Soos herders moet julle hierdie skape gaan soek wat die spoor so erg byster geraak het. Hulle weet nie meer mooi waar God is nie.

7. “Gaan vertel hulle van God se nuwe wêreld wat hier is. Gebruik die toerusting wat Ek vir julle gegee het.

8. “Doen onder hulle wat julle My die afgelope tyd sien doen het: gaan maak siek mense gesond; gaan gee aan dooies weer lewe; gaan maak melaatses gesond, en gaan help mense wat in die mag van demone is om daarvan ontslae te raak.“Doen al hierdie dinge sodat mense die teenwoordigheid en grootheid van God self persoonlik kan ervaar. En onthou, hierdie dinge het julle nie self verdien nie. Ek het dit gratis vir julle gegee. Gaan gee dit daarom ook verniet aan ander weg.”

9. Jesus het verder met hulle gepraat en vertel hoe hulle te werk moes gaan:“Julle hoef nie ’n klomp geld saam te vat nie.

10. Dit is ook nie nodig om groot tasse met baie klere te pak of allerhande spesiale reëlings vir die reis te tref nie. Immers, iemand wat werk, word tog betaal, al kry hy net kos om te eet vir al sy moeite.

11. “Sê nou maar julle kom in ’n stad of dorpie aan, kyk dan of daar iemand is wat vir julle blyplek aanbied en by wie julle graag sal wil bly. Moenie rondval nie; bly daar totdat julle weer na die volgende dorpie toe moet gaan. “So moet julle dit doen:

12. As julle in ’n huis ingaan, groet die mense vriendelik. Sê vir hulle God sal vir hulle goed wees. Hou dan hulle reaksie fyn dop.

13. As hulle julle met dieselfde vriendelikheid teruggroet, weet julle die saak is reg. Laat die vrede van God oor die mense van daardie huis kom. Maar as hulle julle nie goed ontvang nie, moenie verder sukkel nie. Loop daar weg, julle met die vrede wat julle bring en alles daarmee saam.

14. “Sê nou iemand verontagsaam julle as julle na hom toe gaan, sê nou hy wil nie luister as julle met hom praat nie, wat dan? Wel, moenie julleself probeer opdring of julle tyd mors nie. Los hom net daar. En as die mense van ’n hele dorp so ’n verkeerde houding het, los hulle ook net daar. Skud die kop, trek julle skouers op en gaan verder.

Lees volledige hoofstuk Matteus 10