Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 5:15-30 Die Boodskap (DB)

15. Daar aangekom, sien hulle die woeste man rustig by Jesus sit. Hy was netjies aangetrek en het normaal opgetree, soos enigeen van hulle. Dit het hulle bang en onseker gemaak.

16. Die mense wat dit alles gesien het, het natuurlik vir almal in besonderhede vertel wat met die woeste man met die demoon en die varke gebeur het.

17. Die mense uit daardie gebied was egter baie ontevrede en het Jesus gevra om pad te gee.

18. Toe Jesus in die skuit klim, vra die man wat die demoon gehad het Hom baie mooi of hy nie saam met Hom kon gaan nie.

19. Jesus wou nie. “Gaan huis toe waar jou mense vir jou wag. Gaan vertel vir hulle hoe goed die Here vir jou was en wat Hy alles vir jou gedoen het.” Die man het nie gestry nie.

20. Hy is daar weg en het vir die mense in daardie streek (wat die mense Tien Stede genoem het) gaan vertel wat Jesus alles vir hom gedoen het. Die mense se monde het oopgehang van verbasing oor sy verhaal.

21. Na die episode met die Geraseners is Jesus weer met die skuit terug na die oorkant toe. Toe Hy op die strand uitklim, het ’n massa mense om Hom saamgedrom.

22. Onder die mense was Jaïrus. Hy was ’n belangrike man, want hy was die leier van die sinagoge waar die Jode bymekaargekom het. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer en gryp sy voete vas.

23. Uit sy hart uit het hy Jesus begin smeek: “My dogtertjie is besig om dood te gaan. Asseblief, kom vat net aan haar en ek weet sy sal bly leef. Asseblief!” Jesus is toe saam met hom.

24. Die mense is agter hulle aan en het rondom Jesus gedruk en gebondel.

25. Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het.

26. Sy het al baie swaargekry en het al wat ’n dokter was, besoek, maar niks wou help nie. Sy het net al hoe sieker geword.

27. Sy het van Jesus gehoor en toe

28. by haarself geredeneer: “As ek net aan hierdie Man kan raak, weet ek dat ek gesond sal word.” Toe Jesus so tussen die baie mense deurstap, kry sy haar kans.

29. Sy kom van agter af en vat aan Hom. Sy kon aan haar liggaam voel hoe sy beter word en die pyn weggaan. Sy was gesond!

30. Jesus het dadelik geweet dat iemand van sy krag gebruik het om gesond te word. Hy draai toe om en vra: “Wie’t aan My gevat?”

Lees volledige hoofstuk Markus 5