Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 4:13-26 Die Boodskap (DB)

13. Jesus sê toe verder vir hulle: “Julle verstaan nie eens hierdie verhaal van die man wat saai nie. Hoe sal julle dan enige verhaal verstaan wat Ek julle vertel? Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal moet verstaan van die boer wat gaan saai het.

14. Die boer saai die boodskap van God.

15. “Party mense is soos die saad wat op die voetpad geval het ... Hulle hoor die boodskap van God, maar dit sink nie in nie. Sodra hulle dit hoor, sorg Satan dat hulle dit baie gou vergeet. Satan pik as’t ware daardie woorde uit hulle gedagtes uit.

16. “Ander mense is weer soos die saad wat op die rotse geval het ... Ook hulle hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net ’n rukkie.

17. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet begin maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie.

18. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in die doringbosse beland het  ... Hulle het ook die boodskap van God gehoor en dit gretig aanvaar.

19. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat hulle beroep stel en al die ander dinge waarmee hulle besig is, ja, selfs die gejaag na geld, vir hulle belangriker as die geloof. Hulle het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat dit iemand is wat God se woord so gretig aanvaar het nie.

20. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in goeie grond geval het ... Hulle hoor die boodskap van God en word diep daardeur getref. Hulle begin in oorgawe reg leef en in alles wat hulle doen, borrel hulle Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan hulle nie.”

21. Jesus gesels toe verder: “Sal jy ’n lamp in die donker aanskakel en dit dan met ’n emmer of so iets toemaak of dit onder die bed inskuif? Sit ’n mens nie eintlik ’n lamp op die tafel om mooi lig te maak nie?

22. Wat mense nie nou verstaan nie, sal hulle nooit verstaan nie. Wat hulle nog nie weet nie, sal vir hulle vertel word.

23. Elkeen wat ore het om te luister moet mooi luister na wat Ek sê.

24. “Luister mooi na hierdie dinge wat julle by My hoor,” gaan Jesus aan. “God sal kyk hoe goed julle luister. Hoe beter julle luister, hoe beter sal God julle help verstaan. Hy sal julle help om selfs meer te verstaan.

25. Wat dit betref, sal die een wat baie het meer kry, maar die een wat niks het nie, sal verloor wat hy ook al het.”

26. Jesus het nog ’n verhaal vertel: “God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n man wat saad saai.

Lees volledige hoofstuk Markus 4