hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 4 Die Boodskap (DB)

Die saaier

1. Jesus het mense weer langs die see van God begin vertel. Die mense het so om Hom saamgedrom dat Hy in ’n skuit moes klim wat effens van die strand af weggestoot is. Die mense het al langs die strand gesit.

2. Jesus het hulle baie dinge van God en sy nuwe wêreld geleer deur vir hulle stories met ’n les in te vertel. Hy het gesê:

3. “Daar was ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad met sy hand oor die grond uitgestrooi.

4. Met die strooiery het van die saad op die voetpad geval wat deur die land geloop het. Die voëls was dadelik by en gou was daar nie ’n korreltjie saad meer oor nie.

5. Van die ander saad het op die rotse geval wat in die land gelê het. In die holtes van die rotse was daar grond. Die saad het gou opgekom, maar kon nie eintlik wortels in die vlak grond maak nie en kon dus nie grootword nie.

6. Die son het die plantjies sommer gou doodgebrand.

7. Van die saad het ook tussen die lae doringbosse beland. Soos die bosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk voordat dit enige saad kon maak.

8. Dan was daar ook saad wat in die land self met die goeie grond geval het. Daardie saad het goed gegroei en ’n oes gegee wat alle verwagtings oortref het.

9. “Hoor julle wat Ek sê? Asseblief, luister mooi daarna.”

10. Later, toe die groot klomp mense weg was, het Jesus se twaalf getrouste volgelinge en die paar ander mense wat nog oor was, Hom uitgevra oor die verhale wat Hy vertel om hulle te leer.

11-12. Jesus het hulle so geantwoord: “As julle mooi na die verhale luister, sal julle baie oor die geheime van God se heerskappy in die wêreld leer. Julle gaan dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg verstaan, maar vir die mense wat die verhale nie in die lig van my boodskap wil verstaan nie, sal alles net blote verhale bly. Die gevolg is dat die verhale vir hulle maar net stories sal wees. Hulle sal die stories hoor, maar nie ’n woord verstaan wat aangaan nie. As hulle iets verstaan het, sou hulle na God toe teruggedraai het en Hy sou hulle alles vergewe het wat hulle verkeerd gedoen het.”

13. Jesus sê toe verder vir hulle: “Julle verstaan nie eens hierdie verhaal van die man wat saai nie. Hoe sal julle dan enige verhaal verstaan wat Ek julle vertel? Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal moet verstaan van die boer wat gaan saai het.

14. Die boer saai die boodskap van God.

15. “Party mense is soos die saad wat op die voetpad geval het ... Hulle hoor die boodskap van God, maar dit sink nie in nie. Sodra hulle dit hoor, sorg Satan dat hulle dit baie gou vergeet. Satan pik as’t ware daardie woorde uit hulle gedagtes uit.

16. “Ander mense is weer soos die saad wat op die rotse geval het ... Ook hulle hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net ’n rukkie.

17. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet begin maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie.

18. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in die doringbosse beland het  ... Hulle het ook die boodskap van God gehoor en dit gretig aanvaar.

19. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat hulle beroep stel en al die ander dinge waarmee hulle besig is, ja, selfs die gejaag na geld, vir hulle belangriker as die geloof. Hulle het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat dit iemand is wat God se woord so gretig aanvaar het nie.

20. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in goeie grond geval het ... Hulle hoor die boodskap van God en word diep daardeur getref. Hulle begin in oorgawe reg leef en in alles wat hulle doen, borrel hulle Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan hulle nie.”

Jesus leer sy volgelinge met verhale

21. Jesus gesels toe verder: “Sal jy ’n lamp in die donker aanskakel en dit dan met ’n emmer of so iets toemaak of dit onder die bed inskuif? Sit ’n mens nie eintlik ’n lamp op die tafel om mooi lig te maak nie?

22. Wat mense nie nou verstaan nie, sal hulle nooit verstaan nie. Wat hulle nog nie weet nie, sal vir hulle vertel word.

23. Elkeen wat ore het om te luister moet mooi luister na wat Ek sê.

24. “Luister mooi na hierdie dinge wat julle by My hoor,” gaan Jesus aan. “God sal kyk hoe goed julle luister. Hoe beter julle luister, hoe beter sal God julle help verstaan. Hy sal julle help om selfs meer te verstaan.

25. Wat dit betref, sal die een wat baie het meer kry, maar die een wat niks het nie, sal verloor wat hy ook al het.”

26. Jesus het nog ’n verhaal vertel: “God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n man wat saad saai.

27. Die saad kom op en groei vanself, terwyl die boer maar sy gewone gang gaan. Die boer self kan dit nie presies verklaar nie. Al wat hy weet, is dat dit gebeur.

28. Die saad groei self uit die grond uit. Eers kom die plantjie uit. Daarna maak dit ’n klein vruggie en uiteindelik hang die ryp vrug daar.

29. As die vrug ryp is, oes die boer dit af omdat die oestyd daar is.

30. “Waarmee kan Ek God se nuwe wêreld nog vergelyk of met watter voorbeelde kan Ek dit nog verder vir julle verduidelik?” het Jesus gevra.

31. “Dit is soos ’n mosterdsaadjie. Dit is seker die kleinste saadjie wat ’n mens kan saai.

32. Tog, as ’n mens dit plant, word dit die grootste van al die plante in die tuin. Die takke is so groot dat die voëls dit tussen ander uitsoek om daar nes te maak.”

33. Jesus het nog baie ander voorbeelde vir hulle gegee, meer as genoeg vir hulle om oor na te dink.

34. Alles het Hy vir hulle met sulke voorbeelde uiteengesit. Wanneer Hy saam met sy dissipels alleen was, het Hy mooi vir hulle verduidelik wat Hy met die verhale bedoel.

Wie is Hy werklik?

35. Toe dit begin skemer word, sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer toe.”

36. Die dissipels is toe saam met Jesus, wat nog in die skuit was, daar weg. Die ander mense het op die strand agtergebly, hoewel party wel met skuitjies saam oorkant toe is.

37. Daar bars toe ’n woeste storm los. Die golwe het tot binne-in die skuit geslaan en die skuit het vol water begin word.

38. Jesus het agter in die skuit op ’n kussing gelê en slaap. Die dissipels skud Hom toe wakker en sê: “Gee U nie om dat ons besig is om te sink nie?”

39. Jesus staan toe op en praat streng met die wind en die golwe: “Stil! Word rustig.” Dadelik het die wind gaan lê en alles was heeltemal kalm.

40. Toe draai Hy na sy dissipels toe: “Vir wat was julle so bang? Vertrou julle My dan nie?”

41. Hulle was heeltemal verslae en het klein gevoel in sy teenwoordigheid. “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see doen wat Hy sê,” het hulle onder mekaar gewonder.